Ouma Joeye is 99 jaar jonk
Sy is tans die oudste inwoner van Residentia Moria en is die afgelope sewe jaar deel van dié familie
Sy het die voorreg gehad om haar man gedurende die Tweede Wêreldoorlog te ontmoet en ses kinders in die wêreld te bring. Sy het egter ook die hartseer ervaar om haar man en twee van haar kinders aan die dood af te staan.
Johanna Elizabeth Ferreira, of beter bekend as Joeye, het op Vrydag, 25 Augustus haar 99ste verjaarsdag saam met vriende en geliefdes gevier.
Sy is tans die oudste inwoner van Residentia Moria en is die afgelope sewe jaar deel van dié familie.

Joeye het in Calvinia in die Wes-Kaap grootgeword. Nadat sy getroud is, het sy Johannesburg toe verhuis waar sy haar drie seuns en drie dogters grootgemaak het.
Volgens haar jongste dogter, Karin Stander het Joeye nooit ‘n beroep buitenshuis gevolg nie en het ook nooit haar rybewys gekry nie.
“Sy was eerder die perfekte ma en huisvrou. Sy het dit geniet om na haar man en kinders om te sien. Haar voorkoms en dié van haar huis was altyd netjies, sy het daarvan gehou om ‘n lekker bord kos voor te sit en het ‘n pragtige tuin gehad,” het sy vertel.
Karin het ook vertel van haar ma se goeie humorsin en dat sy graag poetse gebak het. Sy was boonop ‘n kitaarspeler in ‘n orkes.

Joeye spog tans met nege kleinkinders en 11 agterkleinkinders, en was altyd lief daarvoor om vir hulle konsert te hou.
Sy hou steeds daarvan om haar kinders naby haar te hê, ten spyte daarvan dat sy aan dementia en Alzheimersiekte ly.
“Haar kinders het nog altyd die wêreld vir haar beteken; as sy haar kinders by haar kon hê, het sy nie ‘n saak met die res van die wêreld nie,” het Karen gesê.
Joeye was nog altyd stylvol en het haar kinders geleer dat al voel hulle hoe sleg, hulle moet opstaan, aantrek, hare doen en grimering aansit. Dan lyk en voel hulle ook sommer beter.
Vandag nog, op 99-jarige ouderdom, staan Joeye soggens op, trek haarself mooi aan en sit haar mooiste lipstiffie aan.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na krugersdorpnews@caxton.co.za of skakel ons by 011 955 1130.
Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterwebtuistes:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!
