Blomiste kweek geluk
Twee plaaslike weldoeners beskryf hulsef as klein blomiste met groot harte.
Ongeveer ‘n week gelede het twee bloemiste se inisiatief uiteindelik ‘n realiteit geword toe hulle hul heel eerste liefdadigheidsmark gehou het.
Dié mark is op Saterdag, 2 September by die Noordheuwel Inkopiesentrum gehou, en sal na verwagting elke tweede maand daar plaasvind.

Michelle Hugo en Mario Ernst, eienaars van M&M – Flowers, Crafts, Gifts het ‘n ruk gelede met die inisiatief vorendag gekom om hul ietwat afgesonderde winkel te bemark. Hul het egter vinnig van plan verander.

“Dit was ons oorspronklike doelwit, maar ons het later besef hoe baie mense ons eintlik hierdeur kan help. Ons het dit toe in ‘n liefdadigheidsprojek omskep,” het Michelle vertel.
Sy en Mario beplan om elke keer as hulle die mark hou, die wins aan ‘n liefdadigheidsorganisasie te skenk. Die eerste markdag se wins is aan Cradle of Hope geskenk.

“‘n Ruk gelede is een van my en Mario se familielede by die Cradle of Hope ingeneem en hulle het haar regtig baie mooi gehelp. Dis waarom ons ons eerste markdag aan hulle opdra,” het Michelle vertel.
Hulle was in staat om ‘n R5 000 President Hyper- en R1 000 Woolworths-geskenkbewys, asook ongeveer 25 sakke klere en komberse aan die organisasie te oorhandig.

Hul volgende mark is in November, en die derde een is in Desember. Michelle en Mario hoop om soveel as moontlik mense te trek om die mark vir ‘n goeie doel te ondersteun.
“Dis die belangrikste vir ons – om ‘n liefdadigheidsorganisasie met die hulp van ons gemeenskap te ondersteun. Ons hoop om nog vele meer te kan help,” het Michelle vertel.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na krugersdorpnews@caxton.co.za of skakel ons by 011 955 1130.
Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterwebtuistes:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!
