Nuwe hoogtes vir klein meisie met groot stem
Sy is een van honderde deelnemers wat gedurende Maart voor 'n paneel beoordelaars opgetree het, en in Junie as een van die 19 finaliste aangewys is.
Op Saterdag, 23 September sal Laerskool Muldersdrif-leerder, Zadine McCarthy ‘n baie groot verhoog vir so ‘n klein dogtertjie aandurf wanneer sy aan die eindrondte van die Jacaranda Show Model and Arts gaan deelneem.
Sedert sy kan onthou het dié 10-jarige geweet sy wil sing. Deur die jare het sy talle hoogtes deur haar passie bereik en maak nou reg vir een van haar grootste kompetisies nóg.

Zadine is een van honderde deelnemers wat gedurende Maart voor ‘n paneel beoordelaars opgetree het, en in Junie as een van die 19 finaliste aangewys is. Deelnemers van so ver as Thabazimbi en Alberton het in Pretoria aan die kompetisie deelgeneem.
Intussen was Zadine, as finalis en boonop die jongste deelnemer, betrokke by talle geleenthede soos ‘n boot camp, werkswinkels, regstreekse onderhoude, fondsinsamelings en fotosessies. Alhoewel sy enige genre sing, fokus sy graag op opera en glo dat dit haar uniek maak.

Sy het ook vroeër vanjaar aan die South African Championships of Arts deelgeneem waar sy goud vir al vyf haar sangitems ontvang het. Daarna het sy aan Talent Africa deelgeneem waar sy onder die Top 10 geëindig het en ook die toekenning vir beste verhoogkunstenaar van 2017 verower het. Zadine sing in haar skool se koor en neem deel aan drama, wat sy as een van haar gunsteling stokperdjies beskou.
“Moenie opgee nie. As jy dink jy kan nie sing nie, probeer dit net, dalk bring dit jou op ‘n baie goeie plek uit,” is die raad wat sy aan ander meisies van haar ouderdom wil gee.
Zadine beoog om later vanjaar aan nog kompetisies deel te neem. Haar droom is om eendag aan America’s Got Talent en/ of Britain’s Got Talent deel te neem.
Volg gerus Zadine se reis op Facebook by The Jacaranda Show Model & Arts.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na krugersdorpnews@caxton.co.za of skakel ons by 011 955 1130.
Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterwebtuistes:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!
