Editor's choiceLocal newsNews

Hulle liefde skitter soos diamante

Al was daar volgens oom Hennie baie op- en afdraandes het hulle nooit kwaad vir mekaar gaan slaap nie.

Toe die News onlangs met Hennie en Eunice Naudé gesels het, het oom Hennie sommer vooraf laggend gewaarsku dat hul reis nie as klein rosies en blaartjies beskryf kan word nie, maar eerder as dorings – baie groot dorings.

Op Donderdag, 5 Oktober sal dié paartjie hul 60ste diamanthuweliksherdenking as egpaar vier, wat volgens oom Hennie net aan die Here se genade te danke is.

Hul storie begin waar die 15-jarige Eunice elke middag saam met haar niggie en vriendinne van Hoërskool Jan de Klerk af na haar huis in Burgershoop toe gestap het.

“Ons het elke dag verby ‘n bakkery gestap. By dié spesifieke bakkery was daar altyd ‘n groep seuns wat vir ons gefluit het, maar ons het net gegiggel en hulle geïgnoreer,” het sy vertel.

Min het sy geweet dat haar toekomstige man een van dié 17-jarige fluitende seuns was.

“Ek het maar later met Eunice se broer bevriend geraak om haar beter te leer ken – dit was die enigste manier. Ek onthou hoe ek nog by die bakkery vir my vriende uitgewys het watter meisie my trouvrou sou wees. Ek het van Eunice gepraat, en nog voor ek haar geken het, het ek geweet dat ons ‘n lang paadjie sou saamstap ” het oom Hennie vertel.

Hulle was mekaar se eerste regte liefde en het ongeveer vier jaar later die knoop deurgehaak. Vier kinders is uit hul huwelik gebore. Daarna is hulle geseën met sewe kleinkinders en twee agterkleinkinders.

Hennie en Eunice Naudé sal hul tyd saam vir niks verruil nie. Foto: Alanicka Lotriet.

Al was daar volgens oom Hennie baie op- en afdraandes het hulle nooit kwaad vir mekaar gaan slaap nie.

“Ons het maar meeste van die tyd net oor die klein goedjies vasgesit, maar ons het seker gemaak om eers daaroor te gesels voor ons in die bed klim. Al het ons soveel swaar dae saam beleef, kon ons darem die lekker dae ook saam geniet. Ons het saam deurgedruk,” het hy vertel.

Tannie Eunice het vertel dat hulle mekaar aangevul het en dat elkeen van hulle “‘n bietjie hier moes skuur en ‘n bietjie daar moes skaaf” om dinge te laat werk.

“Dit is ‘n baie groot mylpaal wat ons nie kan glo so vinnig gekom het nie. Eers wanneer ons na ons kinders kyk, dan besef ons hoe lank dit werklik is,” het sy gesê.

Dié paartjie is baie trots op alles wat hulle saam bereik het, insluitend elkeen van hul kinders, en stem saam dat hulle hul tyd saam vir niks sou verruil nie.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na krugersdorpnews@caxton.co.za of skakel ons by 011 955 1130.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterwebtuistes: 

Randfontein Herald

Roodepoort Record

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button