Vermorste water aan Mogale City-inbelsentrum te wyte?
Jimmy Erasmus, 'n pensioenaris het sy kommer uitgespreek nadat hy lank gesukkel het om die lekkende waterpyp by die munisipaliteit aan te meld omrede niemand sy oproepe beantwoord het nie.
‘n Baie bekommerde Mindalore-inwoner het vir die News vertel dat toe hulle Vrydagoggend, 13 Oktober wakker word, hulle gesien het dat hul agterplaas kniediep onder water was. Die oorsaak was ‘n lekkende ondergrondse waterpyp op sy buurman se sypaadjie.

Jimmy Erasmus, ‘n pensioenaris het vertel hoe lank hy reeds gesukkel het om die probleem by die munisipaliteit aan te meld omrede niemand sy oproepe beantwoord het nie.
“Ons erf was toe onder die water, en omdat ek besef het dat dit dalk ‘n rukkie gaan duur voordat iemand ons gaan kom help, het ek die rioolafvoer oopgemaak sodat die water daarin kan wegvloei.
Ek het my doodgesukkel om iemand in die hande te kry,” het hy vertel.
Vir Jimmy, wat vir 27 jaar ‘n afvalwaterinspekteur by die Johannesburgse Waterverliesdepartement was, is die situasie ontstellend aangesien dit deel van sy posbeskrywing was om ondersoek in te stel indien enige water verlore gegaan het.
Jimmy het verder vertel dat daar wel ‘n span munisipale werkers opgedaag het, maar eers nadat hy vir Org Viljoen van die Water en Sanitasie Departement geskakel het.

“Hy het dadelik iemand uitgestuur. Hulle het van 9vm tot 11vm baie hard gewerk om die lek te herstel. Dit was egter van korte duur, aangesien die water skaars vier uur later begin uitvloei het,” het hy gesê.
Jimmy het dit weereens aangemeld, waarna ‘n span tot omtrent 8nm aan die lekkasie gewerk het. Hy het voorgestel dat die waterdruk in die straat verlaag word om soortgelyke probleme in die toekoms te voorkom.
“Hulle het toe die druk verlaag en ons het nie weer probleme gehad nie. Hulle het regtig baie goeie werk gedoen,” het hy vertel.
Lees ook: Residents experience ‘water leak from hell’
Hy het ten slotte vertel dat die probleem, volgens hom, nie by die munisipale werkers lê wat die herstelwerk doen nie, maar eerder by die inbelsentrumstruktuur van die munisipaliteit.
“As gevolg van die inbelsentrum se treurige reaksie is daar honderde en honderde liters water vermors. Die spanne het uitgekom en hul werk gedoen, maar ons glo die probleem lê by die inbelsentrum aangesien ons elke nommer sonder sukses probeer het.”
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na krugersdorpnews@caxton.co.za of skakel ons by 011 955 1130.
Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterwebtuistes:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!
