Munsieville ontvang vrag kos na verwoestende storm
Ds Hlokwa het seker gemaak dat die honderde blikkies, houers melk en sakke mieliemeel op Sondag, 15 Oktober onder die geaffekteerde Munsieville-inwoners versprei word.
Op Vrydag, 13 Oktober was pastoor Peter Hlokwa van House of Praise Ministries in Munsieville verheug toe ds Jannie Pelser van Rant-en-Dal Prisma met ‘n vrag vol blikkies sardyne, vleis, melk en mieliemeel van ongeveer R15 000 by hom opdaag.

In die lig van die 9de Oktober se verwoestende storm en tornado het Jannie, as fasiliteerder van die projek, dit goedgedink om met die hulp van ‘n paar ander instellings ‘n vrag noodsaaklikhede aan Munsieville-inwoners, wat swaar deur die storm getref is, te skenk. Dié skenkings is moontlik gemaak deur GTL Food Manufacturers & Distributors Pinehaven asook Awesome Distributors.
Peter het seker gemaak dat die honderde blikkies, houers melk en sakke mieliemeel op Sondag, 15 Oktober onder die geaffekteerde Munsieville-inwoners versprei word.

Jannie het gesê dat hy saam met sy gemeente, Toekomsvenster, dankbaar is vir hul bevoorregte posisie om ander te kan help.
“Ons het die nood raakgesien, en ons het net geweet dat ons moes help waar ons kon,” het hy vertel.
Peter is ook oneindig dankbaar vir die skenkings waarmee hy die gemeente en ander inwoners kon bedien. Hy glo en vertrou dat dié kos baie ver sal gaan in die gemeenskap se huishoudings.

“Die Here sorg vir ons. Ons kan nie beskryf hoe bly ons is dat Jannie vir ons kom kuier het nie – ons is sowaar geseën,” het hy ten slotte vertel.
Do you perhaps have more information pertaining to this story? Email us at krugersdorpnews@caxton.co.za or phone us on 011 955 1130.
For free daily local news on the West Rand, also visit our sister websites:
Remember to visit our Facebook, Twitter and Instagram pages to let your voice be heard!
