Solidariteit skenk skryfbehoeftes aan skool
"Een van ons grootste behoeftes is skryfbehoeftes vir Grondslagfase-leerders."
Nadat ‘n tornado Laerskool Protearif onlangs getref het, het Hugo Vermeulen, hoof van Solidariteit Helpende Hand se Skoleondersteuningsentrum gesê dat dit vir hulle van kardinale belang is dat die skool so gou as moontlik weer na normaal terugkeer.

Foto: Ingestuur.
Die Skoleondersteuningsentrum het gevolglik onder andere skryfbehoeftes en 13 skatkiste van die gesogte Juffrou se Skatkis-program ter waarde R52 000 aan Laerskool Protearif geskenk.
Die skatkis bevat skryfbehoeftes, pragtige Afrikaanse plakkate, legkaarte, blokkies en ’n springtou, asook ’n verskeidenheid handleidings. Die waarde van so ’n skatkis is ongeveer R4 000.
“Die kinders is reeds baie ontwrig en dit is nou naby aan die eksamen,” het Hugo gesê. “Dit is baie belangrik dat hulle nou begin voorberei vir die eksamen en hierdie skatkiste sal hulle daarmee help.”

Foto: ingestuur.
Shaun Strydom, adjunkhoof van Laerskool Protearif het na die ramp gesê, “Een van ons grootste behoeftes is skryfbehoeftes vir Grondslagfase-leerders. Ons hele skool sal in groepe verdeel word na ander skole en kerke gestuur word waar daar lokale is en waarin hulle tydelik kan skoolgaan.”
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na krugersdorpnews@caxton.co.za of skakel ons by 011 955 1130.
Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterwebtuistes:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!
