Editor's choiceLocal newsNews

Beter toekoms vir mishandelde kinders

Deon, 63 en Carel, 65, het sedert Julie vir 'n bietjie meer as twee maande lank al met die grens van Suid-Afrika langs gery om fondse ten bate van die Child Witness Foundation in te samel.

Twee broers – Deon en Carel Viljoen – het sedert Julie ‘n bietjie meer as twee maande lank al met die grens van Suid-Afrika langs gery om fondse ten bate van die Child Witness Foundation in te samel.

Op Maandag, 3 Julie het Deon Viljoen, ‘n bekende voormalige Transvaal-rugbyspeler, wat nagenoeg 40 jaar lank ‘n Krugersdorp-inwoner is, en sy broer Carel hul fietse nader getrek om ‘n 6 000km-reis vir ‘n ongelooflike doel aan te pak.

Deon Viljoen is bly dat hy mishandelde kinders op so ‘n manier kan help. Foto: Alanicka Lotriet.

Die Child Witness Foundation identifiseer en gee aandag aan onderliggende patrone van mishandeling, geweld en viktimisering wat tot sake lei waarby kinders betrokke is.Dié stigting het die Viljoen-broers genader om met die fondsinsameling te help. Hulle het in die hartjie van die winter by die Vryheid-tak van die Round Table se klubhuis weggetrek en het beplan om op 14 Oktober terug in Vryheid te wees. Hulle het sonder ‘n ondersteuningspan gery en slegs op die welwillendheid van barmhartige Suid-Afrikaners staatgemaak.

Hul reis is egter na 4 800km kortgeknip toe Deon noodgedwonge moes ophou weens ‘n ernstige urologiese probleem, waarvoor hy ‘n noodoperasie moes ondergaan. Hy het nietemin steeds graag vir die News van sy ervarings vertel.

“Een van die grootste dinge wat ek agtergekom het, is dat as jy vir mense die geleentheid gee om jou te help, hulle jou sal help. Soveel mense het ons onder hulle dak ingeneem, en dit sonder om te huiwer,” het hy begin vertel.

Tydens hul reis van twee maande het hulle elke aand ander verblyf in elke denkbare vorm gevind – van gastehuise, vyfsterhotelle en familiewonings tot tente, tonnels en plase.

“Die vriendelikheid van ons Suid-Afrikaners het ons werklik verstom. Dit was so lekker toe ‘n sakeman ons in die Noordwes gestop en gevra het of hy vir ons kon bid. Hy was een van baie wat ons sommer spontaan gestop het om ons uit te vra oor wat ons doen,” het Deon vertel.

Hy het ook vertel dat ondanks talle uitdagings, daar baie interessante mense oor hul pad gekom het wat hulle krag vir nog kilometers gegee het. Aangesien dié twee die roete teen ‘n aansienlik stadige pas aangedurf het, het hul ook talle asemrowende natuurtonele waargeneem wat hulle andersins nie sou sien nie.

Min het Deon egter geweet dat hy 1 200km voor hul eindbestemming van sy fiets sou moes afklim. Dit het in Groot Brakrivier in die Wes-Kaap gebeur toe hy in opdrag van ‘n dokter dadelik moes ophou ry.

Deon Viljoen trap sy pedale vir ‘n goeie doel. Foto ingestuur.

“Ek het vreeslik siek geraak van te veel ry op een slag. Volgens die dokter sou my toestand drasties vererger as ek nie dadelik die reis gestaak het nie,” het hy vertel.

“Die fisiese pyn was ongelooflik erg, maar ek het geweet dat die emosionele letsels van die mishandelde kinders, waarvoor ons ry, baie erger is.”

‘n Dag later, op 11 September moes Deon terugkeer Krugersdorp toe vir ‘n noodoperasie, waarvan hy gelukkig gou herstel het. Sy broer, Carel het egter aanhou ry tot by sy tuisdorp, Port Alfred. Al het hulle nie die reis voltooi nie, het hulle steeds R40 000 vir die organisasie ingesamel.

Ondanks ‘n groot aantal uitdagings glo Deon dat hy so ‘n tog weer vir ‘n plaaslike liefdadigheidsorganisasie sal aanpak, mits ‘n ondersteuningspan hom vergesel.

Die Viljoen-broers, in besonder Deon, bedank graag al die Krugersdorp-inwoners en besighede vir hul deurlopende finansiële en morele ondersteuning, asook almal regoor die land wat bygedra het tot die organisasie se fondse.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na krugersdorpnews@caxton.co.za of skakel ons by 011 955 1130.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterwebtuistes: 

Randfontein Herald

Roodepoort Record

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button