Inwoners dreig om kabeldiewe te skiet
“Daar word net die heeltyd gepraat oor wat gedoen gaan word. Na die vierde keer van grootpraat wil ons die reg in eie hande neem.”
‘n Woedende sakeman het op Woensdag, 25 Oktober die News geskakel en vertel dat hy die kabeldiewe wat al vier keer dié maand dieselfde stel kabels gesteel het, gaan skiet.
Johan du Preez het gesê dat die probleem al talle kere by die polisie en munisipaliteit aangemeld is, maar is nou moeg vir beloftes aangesien daar nie genoeg gedoen word om kabeldiefstal te bekamp nie.

Foto: Bianca Pindral
“Dis nie meer ‘n kwessie van ‘kom ons praat daaroor nie’, want waaroor wil jy praat? Daar is ‘n probleem wat die gemeenskap negatief beïnvloed,” het Du Preez gesê. “Daar word net die heeltyd gepraat oor wat gedoen gaan word. Na die vierde keer van grootpraat wil ons die reg in eie hande neem.
As dit so aangaan, gaan ek iemand skiet. Ons lewens is in gevaar.”
Lees ook: Polisie stuit kabeldiewe in hul spore
Charlotte Kahn, lid van die Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) het gesê hulle het die Krugersdorp Polisie gebel en die patrollievoertuig was in die area, maar hulle het glo niks gesien nie.
Sammy Horn, nog ‘n lid van die GPF beweer dat ‘n bejaarde man haar tydens ‘n kragonderbreking geskakel het, “Die man gebruik ‘n suurstofmasjien en kon nie asem kry nie omdat die krag af was”.
Die GPF kon ook nie hul radio’s laai wanneer daar nie krag was nie.

Christo Kotze, DA-raadlid vir Wyk 37, waarvan Wentworthpark ook deel is, het ook al genoeg gehad en het gesê, “Elke tweede ou kom steel koperkabels soos hulle wil. Die munisipaliteit het Dinsdag, 24 Oktober die kabels vir ‘n vierde keer hierdie maand vervang.
“Hulle het daardie aand die Rooimiere gestuur om die kabels op te pas, maar ek het steeds nie ‘n oog toegemaak nie want ek het my oor die inwoners se veiligheid bekommer.”
Die gemeenskapslede en die raadslid vra dat die polisie permanent ‘n wag in die gebied plaas sodat die kabels nie gesteel kan word nie.
Gert Jonker, voorsitter van die GPF wou nie op die situasie kommentaar lewer nie.
Do you perhaps have more information pertaining to this story? Email us at krugersdorpnews@caxton.co.za or phone us on 011 955 1130.
For free daily local news on the West Rand, also visit our sister websites:
Remember to visit our Facebook, Twitter and Instagram pages to let your voice be heard!
