Handsakke vol liefde
Estelle Opperman het dit goedgedink om vir ‘n tweede jaar ‘n handsakprojek, wat deel vorm van ‘n motiverende damesoggend, aan te pak.
‘n Vrou sonder haar handsak is soos ‘n voël sonder vlerke, en soms kan kwessies soos armoede, geslagsongelykheid en viktimisering keer dat ‘n vrou werklik haar vlerke kan sprei.
Juis daarom het Estelle Opperman, hoof van Mug and Tree Gemeenskapsentrum dit goed gedink om vir ‘n tweede jaar ‘n handsakprojek, wat deel vorm van ‘n motiverende damesoggend, aan te pak.

Volgens haar word die projek veral gemik op vroue van die gebiede in en om Krugersdorp-Wes, insluitend Appelpark en Burgershoop waar hulle daagliks verskeie uitdagings die hoof moet bied.
Vanjaar was sy bevoorreg om die wonderlike ondersteuning van Linda Theron Drama Studio in Randburg, sowel as van ‘n paar gemeenskapslede, te ontvang.

Gevolglik was Estelle en raadslid Trudie Naudé in staat om handsakke met ‘n paar items basiese toiletware aan meer as 50 vroue op Sondagoggend 19 November, by Mug and Tree Gemeenskapsentrum te oorhandig.
Die hartsnare van dié dames is ook behoorlik geroer toe motiveringspreker Marika van Heerden vertel het van haar uitdagings en hoe sy dit oorkom het.

“Mishandelde vroue, kinders en bejaardes is my grootste passie. Ek wil uitreik na vroue en help waar ek kan,” het Estelle vertel.
“Al was ek nie self daardeur nie, wil ek my bes probeer om die vroue so veel as moontlik op te hef. Ons wil hulle wys dat hulle sterker is as wat hulle dalk dink.”
Sy glo dat sy nog baie het om vir die vroue te bied, aangesien sy reeds aan haar volgende projek begin werk het.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na krugersdorpnews@caxton.co.za of skakel ons by 011 955 1130.
Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterwebtuistes:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!
