Weerdiens: Dit gaan weer heerlik warm wees
Perfekte braaiweer word vir die naweek voorspel – hier is 'n paar unieke bykosse.
Die aanlynweerdiens Weather SA voorspel ‘n gemiddelde temperatuur van 30 grade vir die naweek van 12 en 14 Januarie.
Gedeeltelik bewolkte toestande word in Krugersdorp verwag en die humiditeit sal die hele naweek bo 30 persent wees. Die weer is perfek vir braai, swem en ‘n lekker kuier.
Dit volg op ‘n hittegolf wat onlangs in die provinsie ondervind is.
‘n Maksimum temperatuur van 28 grade word vir Saterdag voorspel waarna dit oornag tot 17 grade sal daal.
Sondag behoort die maksimum temperatuur 31 grade te wees waarna dit oornag weer tot 17 grade sal daal.
Daar word slegs 30 persent reën vir die naweek voorspel en die wind behoort nie sterker as 10km/h te waai nie.
Hier is ‘n paar voorstelle vir buitengewone braaibykosse om die goeie weer te benut:
Kerrieperskes
1 groot blik perskeskywe of -helftes
2 uie in dun skyfies gesny
30ml olie
2 teelepels matige kerrie
125ml asyn
125ml suiker
2 eetlepels blatjang
Stroop uit die perskeblik
Metode:
Braai die uie in die olie tot sag en deurskynend.
Voeg die ander bestanddele behalwe die perskes by en laat die stroop effens dik kook.
Koel af en giet oor perskes.
Kaasgereg met brood
8 dik snye witbrood (smeer met botter)
3 eiers
sout, peper en mosterdpoeier
2 koppies gerasperde kaas
3 koppies melk
(Opsioneel: ‘n pakkie spek en een ui, gebraai)
Pak ‘n laag brood en skep die helfte van die eiermengsel en spek en 1 koppie kaas oor
Pak weer ‘n laag en gooi laaste melk en heel laaste die kaas bo-oor
Bak in oond by 180 grade tot gaar en goudbruin.
Mielietert met groente
60ml meel
60ml suiker
60ml botter, gesmelt
15ml bakpoeier
4 eiers
2 blikkies roommielies
sout en gemaalde swart peper
Gemengde groente (gevrieste pakke country crop) – jou keuse hoeveel jy wil ingooi
1 koppie kaas
1 tamatie
Meng al die bestanddele behalwe die groente, kaas en tamatie.
Gooi gemengde groente (net so gevries) onder in bak (jy kan minder gebruik as jy wil, hang af hoe groot die bak is)
Gooi mieliemengsel bo-oor
Gooi gerasperde kaas bo-oor
Sny tamatie in skywe en rangskik bo-op
Gooi bietjie pietersielie en paprika oor, sit skyfies tamatie op, en bak in oond vir ongeveer 1 uur by 180°C
Jy kan die groente uitlaat – dan is dit net ‘n gewone mielietert
Marrow-tert
6 koppie gerasperde marrow (rou)
6 eiers, geklits
1 koppie meel
2 tl bakpoeier
1 koppie suiker
2 teelepel vanielje
4 eetl botter
sout na smaak
Meng botter en suiker, voeg eiers by. Meng droë bestanddele en pampoen by.
Meng alles en bak tot gaar vir ongeveer 45 min tot ‘n uur by 180°C.
Do you perhaps have more information pertaining to this story? Email us at krugersdorpnews@caxton.co.za or phone us on 011 955 1130.I
For free daily local news on the West Rand, also visit our sister websites:
Remember to visit our Facebook, Twitter and Instagram pages to let your voice be heard!
