Krugersdorp-Wes se swembad weer oop
Die swembad is nou weer oop en helder mooi blou!
Die gemeenskap van Krugersdorp-Wes was in 2016 geseën met ‘n olimpiese grootte swembad vol helderskoon water.
Die swembad was tot aan die einde van die somer oop en lede van die gemeenskap kon die heerlike koel water geniet.
Maar in 2017 is die swembad gesluit weens ‘n tekort aan chloor. Na die News talle artikels oor die toestand van die swembad gepubliseer het, is daar aksie geneem en die swembad is onlangs weer oopgemaak.

Nou nooi die raadslede die gemeenskap om weer die water saam met hulle te kom geniet.
“Die swembad is Mogale City se bydrae tot die verstandelike en fisiese gesondheid van die gemeenskap,” het Lynn Pannall, destydse burgemeester van Mogale City met die oorspronklike opening gesê.
Hier is ‘n paar interessante feite oor die swembad:
• Daar is twee swembaddens op die perseel – ‘n olimpiese swembad en ‘n kleuterswembad.
• Elke swembad het ‘n heining rondom. Hierdie heining keer nie net dat swemmers aanlope vat en duik nie, maar maak ook seker dat mense wat rondom die swembad lê, nie die lewensredders se pad na die water blokkeer nie.
• Die groter swembad se onderste teëls is volgens olimpiese standaarde gemerk.
• Die groot swembad bevat 1,2 miljoen liter water.
• Die swembad het ‘n waterherwinningsmeganisme wat die water deur ‘n filter sirkuleer, chloor byvoeg en dan terug in die swembad pomp.
• Veiligheidswagte patrolleer die area rondom, om seker te maak dat daar geen dwelms, wapens of alkohol op die perseel is nie. Hulle is gemagtig om sakke vir hierdie items te deursoek.
• Daar word geen diere in die area toegelaat nie.
• Daar is permanente lewensredders rondom die swembaddens.
Trudie Naudé, raadslid vir die area, sê nou dat die swembad oop is sal minder mense op straat wees, en meer in die swembad.
Die swembad is in Gouldstraat, Krugersdorp-Wes en is Dinsdae tot Saterdae vanaf 10vm tot 4.30nm oop.

Ingangsvooie beloop R3 vir kinders en R6 vir volwassenes. Die fondse sal gebruik word om die swembad skoon te hou.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na krugersdorpnews@caxton.co.za of skakel ons by 011 955 1130.
Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterwebtuistes:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!
