Gauteng moontlik die volgende Kaapstad wat water betref
Gauteng se totale persentasie vir watervermorsing deur munisipaliteite staan op 36 persent teenoor die nasionale syfer van 36,7 persent.
Gauteng gaan binnekort in die voetspore van Kaapstad volg as munisipaliteite in die provinsie nie dringend ophou om water te vermors nie.
So het Philip van Staden, VF Plus-LPW vir Gauteng gesê na afloop van ‘n vergadering van die Plaaslike Regering-komitee van die Gautengse wetgewer.
Van Staden het gesê dat die plaaslike munisipaliteite van Rand West City, Merafong City en Mogale City die grootste sondaars in dié provinsie is met onderskeidelik 65,50 en 44 persent waterverliese. Die 44 persent waterverliese van Johannesburg, Emfuleni se 32, Ekurhuleni se 30,1, Midvaal se 28, Lesedi se 22 en Tshwane se 20 dra verder by tot die provinsie se vermorsing. Dit bring die totale persentasie vir Gautengse munisipaliteite op 36 persent te staan, teenoor die nasionale syfer van 36,7 persent.
“Die VF Plus is bekommerd oor die manier waarop water deur munisipaliteite in Gauteng hanteer word en die party het in vanoggend se vergadering gewaarsku dat indien daar nie dringend water bespaar word en aandag aan die instandhouding van waterinfrastruktuur gegee word nie, Gauteng binnekort in dieselfde verknorsing as Kaapstad sal sit, maar op ‘n veel groter skaal.
“Die oorsake van waterverliese in Gauteng is skrikwekkend. Dit sluit in:
– diefstal en beskadiging van infrastruktuur
– wanbetalings
– uitreik van verkeerde rekeninge
– foutiewe watermeters
– waterlekkasies
– gebarste pype
– reservoirs wat lek
– diefstal van water wat insluit onwettige aansluitings
– geblokte rioolstelsels
– misbruik van water deur huishoudings
– swak instandhouding en ou infrastruktuur
– suur mynwater
“Bogenoemde beteken dat miljoene liter water die afgelope jaar in Gauteng verlore gegaan het. In plaas daarvan om water te bewaar en te bespaar deur hierdie probleme uit te skakel en te herstel, is dit duidelik dat die LUR vir Plaaslike Regering in Gauteng nog nie veel gedoen het om aandag aan die probleem te skenk nie.
“Die VF Plus meen dat die politieke wil in Gauteng ontbreek om dringend aandag aan die kwessies te gee en dat inwoners self voorsiening sal moet begin maak vir die toekoms deur boorgate te sink en reënwater vir huishoudelike gebruik op te vang.
“Gauteng staan op die afgrond. Hierdie probleem kan erger word as wat tans in Kaapstad ervaar word. Miljoene mense woon en werk in Gauteng en jaarliks stroom nagenoeg 250 000 mense die provinsie binne.
“Dit is duidelik uit vanoggend se komiteevergadering dat die departement nou eers die erns van die situasie begin besef,” het Van Staden afgesluit.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na krugersdorpnews@caxton.co.za of skakel ons by 011 955 1130.
Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterwebtuistes:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!
