Kwaak-Kwaak-maatjies gee tonne liefde
Die skool ondersteun elke jaar ‘n ander liefdadigheidsprojek.
Die maatjies van Kwaak-Kwaak Kleuterskool in Quelleriepark het vir Valentynsdag emmers vol liefde aan ’n plaaslike liefdadigheidsorganisasie geskenk.
Dit was ook die skool se jaarlikse Drukkiedag waarop die maatjies fraai in rooi en wit getooi was. Die dag was propvol opwinding, liefde en welwillendheid.
As deel van die skool se viering van die maand van liefde het die maatjies van die verskillende klasse niebederfbare kos bymekaar gemaak om aan die organisasie Emmers vol Liefde te skenk.

“Al die Kwaak-Kwaak-maatjies het hul kant gebring,” het hul skoolhoof, Heidi Clements vertel.
Die skool ondersteun elke jaar ‘n ander liefdadigheidsprojek. Verlede jaar het hulle die Tekkie Tax-projek saam met Môreglans Tehuis aangepak en ondersteun.
“Hierdie jaar het ons dit goedgedink om ‘n plaaslike liefdadigheidsorganisasie, Emmers vol Liefde, te ondersteun. Dit was vir ons maatjies ‘n groot plesier en ‘n lekkerte om tot hierdie projek by te dra,” het Heidi vertel.
Die kleuters het sedert die eerste week in Februarie elke dag iets skool toe gebring om die emmertjies mee vol te maak.

Die opwinding was groot toe oom Jan Stokes met sy Emmers vol Liefde-trokkie by die skool aangekom het. Die geskenkte emmers vol liefde is aan hom oorhandig.
“Die kinders was diep geraak toe oom Jan hulle vertel het dat die kos wat hulle ingesamel het aan kinders gegee gaan word wie se mammas en pappas nie geld het om kos te koop nie, asook aan oumas en oupas wat nie meer kan werk nie en niemand het om hulle te versorg nie.”
Hulle het die dag op ’n soet noot met ’n heerlike piekniek op komberse op die skoolterrein afgesluit.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na krugersdorpnews@caxton.co.za of skakel ons by 011 955 1130.
Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterwebtuistes:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!
