Editor's choiceLocal newsNews

Alles wat jy nodig het vir 2018-redenaars

Vir elke graad word uiteengesit hoe om die beste redenaarstoespraak te skryf.

Verlede week het die News tesame met Afrikaans.com jou gewys hoe om 'n toespraak te skryf. Dié week behandel ons die verskillende ouderdomsgroepe en die uitdagings wat daar vir elkeen is. Ons gee jou ook nuttige wenke om die toespraak aan te leer en (v)oor te dra.

Voor ons wegspring, kyk eers na hierdie kort video om jou geheue te verfris oor hoe 'n redenaarstoespraak moet lyk:

Vir sprekers van Graad 1 tot 3 is die druk nog nie so groot nie en daar word nog nie so baie van hulle as sprekers verwag nie. Hulle toesprake moet tussen twee en vier minute lank wees en hul hoef ook nog nie 'n onvoorbereide toespraak te lewer nie.

Dit is belangrik dat die leerders hul toesprake geniet en met gemak kan voordra! Sorg dat die leerders se toesprake taalgebruik en uitdrukkings bevat waarmee hulle vertroud is. Oogkontak, natuurlike handgebare, die gebruik van die leerder se stem en die hantering van notas is alles dinge wat ingeoefen word. Oefen, oefen, oefen is die geheime wapen. Hoe meer die leerders hul toesprake oefen, hoe gemakliker gaan hulle daarmee word en hoe beter gaan die eindresultaat wees!

Hoewel leerders in Graad 4 en 5 ook nie onvoorbereid hoef te praat nie, is hulle toesprake langer (tussen drie en vyf minute) en daar word meer van hulle verwag. Hierdie groep leerders word min of meer op dieselfde punte as die Graad 1 tot 3's beoordeel, maar daar is tog 'n paar bykomende faktore waarna gekyk word.

Leerders in Graad 4 en 5 moet hul toesprake met selfvertroue kan voordra. Die taalgebruik kan effens moeiliker wees as vir jonger kinders, maar moet steeds van pas wees. Daar word ook meer aandag aan die manier van oordrag gegee. Is die leerder oorredend? Gebruik hy/ sy handgebare en maak oogkontak met selfvertroue? Die toespraak word ook in meer detail beoordeel: Is die onderwerpsformulering goed? Het die leerder sy/ haar standpunt as 'n vraag gestel?

Leerders in Graad 6 en 7 se toesprake moet vier tot ses minute lank wees. Dié groep leerders kry vir die eerste keer die geleentheid om onvoorbereid te praat. Hoewel dit vir baie leerders (en ouers) 'n vreesaanjaende gedagte kan wees, hoef dit glad nie 'n traumatiese ervaring te wees nie. Die geheim? Wees voorbereid! Baie ouers maak die fout om kinders blindelings in hul eerste onvoorbereide toespraak in te stuur. Daar is verskeie 'toespraakformules' wat 'n leerder vooraf kan leer om by enige onderwerp te pas! Oefen ook om onvoorbereide toesprake te skryf en voor te dra.

Kyk na hierdie nuttige video wat jou en jou kind leer hoe om voor te berei vir 'n onvoorbereide toespraak:

In die hoërskool raak die toesprake langer, en die kompetisie strawwer! Hoërskoolleerders se toesprake moet vyf tot sewe minute lank wees.

Wenke om die toespraak te oefen en te leer:

• Die belangrikste wenk wat Afrikaans.com jou kan gee, is eenvoudig: Oefen. Redenaars word nie gebore nie, maar gemaak! Hoe meer jou kinders hul toesprake gaan opsê, hoe makliker en lekkerder gaan die ervaring vir hulle wees.

• Onthou: Voordat die leerders nie hul toesprake 110 persent ken nie, kan daar nie aan die ander aspekte van redenaars aandag gegee word nie. Die hantering van notas, oogkontak, stemgebruik en handgebare moet eers ingeoefen word nadat die leerders hul toesprake vlot kan opsê!

• Sorg ook dat jou kinders so gou as moontlik met hul notas begin oefen. Hoe meer hulle die notas hanteer, hoe gemakliker gaan hul daarmee wees. Notas is immers daar om die kinders te help indien hulle sou vasbrand.

• Nog 'n goeie wenk is om jou kinders voor die spieël te laat oefen, en/ of 'n video van hulle te maak wanneer hulle oefen. So kan die kinders sien waar hulle aan 'n gesigsuitdrukking of oogkontak moet werk, of waar dit goed sal werk en bygevoeg moet word.

• Maak ook seker dat jou kinders se toesprake die regte lengte is wanneer julle dit perfek ingeoefen het. Die meeste redenaarskompetisies het ligte wat tyd aandui, en niks kan 'n spreker so omvêr gooi soos 'n oranje lig wat aangaan wanneer hulle nog nie naastenby klaar gepraat het nie!

Besoek gerus https://www.afrikaans.com/news-headlines/leerhulp/artikel-2-in-die-alles-wat-jy-nodig-het-vir-2018-redenaarsreeks vir 'n volledige struktuur, sowel as beoordelaarstate van hoe om 'n redenaarstoespraak te skryf.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button