Editor's choiceLocal newsNews

Nuwe boek vertel hoe Krugersdorpers in die ABO geveg het

Die boek is by die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke in Bloemfontein bekendgestel.

Daar was die Anglo-Boereoorlog (ABO), en dan was daar die Anglo-Boereoorlog soos die Wes-Transvalers daarin geveg is.

Dit word duidelik in Kraal Uitgewers se nuutste boek, Wes-Transvaal: Militêre brandpunt van die Anglo-Boereoorlog, 1899–1902 deur die oud-Noordwester en historikus Pieter de Jager.

Hierdie standaardwerk stel onder meer ondersoek in na die betrokkenheid van die Krugersdorpse burgers in die stryd wat gedurende die oorlog in die Wes-Transvaal en by veldslae elders (soos by Donkerhoek) gevoer is, die inname van Krugersdorp in Junie 1900 en die rol van die aanvoerder van die Krugersdorp-kommando, generaal Sarel Oosthuizen (ook bekend as Rooi Bul).

Oud-Noordwester en historikus Pieter de Jager lees uit sy nuutste boek. Foto’s: Ingestuur.

Die boek is die sewende en laaste boek in Kraal Uitgewers se gewilde Erwe van ons vaad’re-reeks. Die wêreldbekende Vrystaatse fotograaf, Paul Alberts, het die reeks in 2005 tot stand gebring. Alberts se toewyding – ná sy dood voortgesit deur sy vrou Charmaine Alberts – en die bystand van prof Andries Raath as reeksredakteur het verseker dat honderde voorheen ongepubliseerde foto’s oor die oorlog wat tussen 1899 en 1902 in die Boererepublieke gewoed het, in die reeks ingesluit is. Met die hulp van moderne tegnologie is ’n groot hoeveelheid foto’s gerestoureer en in die sewe publikasies van die Erwe-reeks ingesluit.

De Jager se militêre en historiese kennis, sowel as sy voorliefde vir die omgewing waar hy ’n groot deel van sy lewe deurgebring het, is gekombineer in die boek. Sy vorige boek Die Korannafonteiners: Stories oor Ottosdal en sy mense is in 2008 deur Protea Boekhuis gepubliseer.

Volgens prof André Wessels, senior professor in die Departement Geskiedenis aan die Universiteit van die Vrystaat, is Wes-Transvaal: Militêre brandpunt van die Anglo-Boereoorlog, 1899–1902 ’n “standaardwerk oor die Anglo-Boereoorlog se verloop in, en gevolge vir, die Wes-Transvaal … De Jager se navorsing is indringend en omvattend.”

’n Databasis met die besonderhede van nagenoeg 700 Wes-Transvaalse burgers wat tydens die oorlog omgekom het, sowel as dié van meer as 2 300 Wes-Transvalers wat deel was van die gebied se burgermag, sal binnekort op die uitgewer se webblad (www.kraaluitgewers.co.za) vrygestel word.

“Dié name bied vandag nog aan ons ’n waardevolle skakel met die verlede en vertel die verhaal van rateltaai mense wat aan die Anglo-Boereoorlog deelgeneem het op die plek waar dit die felste geveg is – in die Wes-Transvaal.

“Die bekendstelling van die boek, sowel as die publikasie van hierdie omvattende naamlys, herinner ons vandag nog aan die ongenaakbaarheid van die oorlog en die bekende en minder bekende helde van die Wes-Transvaal. Mag ons hulle nooit vergeet nie,” het Ilze Nieuwoudt, publikasiebestuurder van Kraal Uitgewers gesê.

Do you perhaps have more information pertaining to this story? Email us at  krugersdorpnews@caxton.co.za (remember to include your contact details) or phone us on 011 955 1130.

For free daily local news on the West Rand, also visit our sister newspaper websites 

Randfontein Herald

Roodepoort Record

Get It Joburg West Magazine

Remember to visit our FacebookTwitter and Instagram pages to let your voice be heard!

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button