Teenboelieveldtog besoek Noordskool
"Dit bly ’n voorreg om met ouers, onderwysers en die gemeenskap hande te vat om afknouery in skole te bekamp."
Die burgerregte-organisasie AfriForum se teenboelieveldtogspan het op 6 Augustus by Laerskool Krugersdorp-Noord besoek afgelê.
Dié veldtog dien as bewusmaking van afknouery in skole en sluit inligtingsessies met leerders, onderwysers en ouers in.
“AfriForum wil met sy teenboeliepraatjies saam met leerders, onderwysers en ouers werk om afknouery in skole stop te sit en betrokke partye met die kennis toe te rus om dit te doen,” het Leandie Bräsler, AfriForum se koördineerder vir leierskapsontwikkeling verduidelik.
“Laerskool Krugersdorp-Noord se missie is om ’n bevorderlike en veilige leeromgewing te skep waar leerders en onderwysers tot hul volle potensiaal kan ontwikkel binne ’n Christelike, Afrikaanse raamwerk. Derhalwe wil ons ook afknouery in ons skool hokslaan,” het Quintin Botha, departementshoof van Laerskool Krugersdorp-Noord gesê.
“Dit is noodsaaklik om deur middel van opleiding, rigtinggewing en ondersteuning in jongmense te belê. Sodoende help ons nie net met die opheffing van vandag se leiers nie, maar ook dié van môre. Dit bly ’n voorreg om met ouers, onderwysers en die gemeenskap hande te vat om afknouery in skole te bekamp,” het Albert van Wyk van School of Life gesê.
Stuur ’n epos na boelie@afriforum.co.za as jou kind se skool by hierdie veldtog en leierskapsontwikkeling betrokke wil raak.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na krugersdorpnews@caxton.co.za of skakel ons by 011 955 1130.
Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterwebtuistes:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!
