MunicipalNews

VF Plus begin veldtog teen omstrede Mogale City-stadsraad

"Dit is tyd dat alle gemeenskappe wat deur die Mogale City-raad bedien word, nou saamstaan om verdere agteruitgang te verhinder."

Die VF Plus het ‘n dringende versoekskrif gerig aan die nasionale minister vir Samewerkende Regering en Tradisionele Sake (Cogta), dr Zweli Mkhize, om onmiddellik in te gryp in die beheer en bestuur van die Mogale City Plaaslike Munisipaliteit. Dit sluit Krugersdorp, Magaliesburg en Muldersdrift in.

“Die Mogale City-stadsraad is sedert die plaaslike regeringsverkiesings in 2016 toenemend in omstredenheid gehul met sigbare wanadministrasie, swak dienslewering en agteruitgang. Die rooi ligte flits vir Mogale City wat reeds soortgelyke simptome begin toon as Emfuleni in die Vaaldriehoek wat tans onder administrasie is en waar inwoners dikwels sonder krag en water oor die weg moet kom,” het Jaco Mulder, VF Plus provinsiale leier vir Gauteng gesê.

Mulder noem dat Mogale City se burgemeester, Naga Patrick Lipudi, op 28 Junie verlede jaar op ‘n onreëlmatige wyse in sy amp verkies is deurdat hy tydens sy eie verkiesing as voorsittende beampte van die stadsraad opgetree het.

“Die huidige speaker is op soortgelyke onreëlmatige wyse verkies. Die raad funksioneer sedert 2016 sonder ‘n geproklameerde reglement van orde soos vereis word deur die Suid-Afrikaanse Grondwet. Alle besluite wat die raad sedert die plaaslike regeringsverkiesings van 2016 geneem het, is daarom by implikasie onwettig.”

Die Gautengse LUR vir Cogt, Uhuru Moiloa, het tot dusver in sy oorsigrol gefaal en versuim om dit reg te stel, selfs nadat die VF Plus dit onder sy aandag gebring het. Die party is in die proses om ‘n klag teen die LUR, die burgemeester en speaker voor te berei weens oortredings van die Uitvoerende Lede Wet.

“Talle omstrede grondtransaksies en behuisingsontwikkelings by onder meer Hekpoort en Tarlton en ook ‘n onwettige poging van die ANC-speaker om ‘n raadsbesluit op 22 Junie vanjaar deur te dwing om ‘n oortrokke fasiliteit van R100 miljoen te bekom, kenmerk die onwettige werkswyse van die speaker en burgemeester. Wanbetaling het in Junie veroorsaak dat Rand Water die watertoevoer tot 20 persent van sy normale kapasiteit gesny het.”

Die VF Plus versoek minister Mkhize om die Gautengse LUR tot orde te roep en om die onwettig verkose burgemeester en speaker van Mogale City se raad te verwyder.

“Dit is tyd dat alle gemeenskappe wat deur die Mogale City-raad bedien word, nou saamstaan om verdere agteruitgang te verhinder.

“Onderteken die versoekskrif aan die nasionale minister van Cogta by www.gemeenskappe.co.za en eis jou grondwetlike regte nou op.”

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na krugersdorpnews@caxton.co.za of skakel ons by 011 955 1130.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterwebtuistes: 

Randfontein Herald

Roodepoort Record

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button