Editor's choiceLocal newsNews

115 gesinne kry verligting met ‘n kospakkie

Teen Donderdag, 10 Oktober, was daar nog bitter min donasies maar Saterdagoggend was daar genoeg vir amper twee kospakkies per gesin.

Esmerelda van Zyl, stigter van die organisasie We’re Against Starvation (WAS) help behoeftiges met onder meer kos, klere, berading en selfs ‘n dokter indien nodig.

Die organisasie het onlangs gevra vir hulp met kospakkies vir 115 gesinne in Krugersdorp. Volgens Riekie Trollip, ‘n WAS-vrywilliger in Krugersdorp, het hulle vroeg in Oktober, nog nie veel gehad nie. Maar toe help RE/MAX hulle met amper alles wat hulle nodig het.

Die Villa Gloria-kamp het 19 jaar gelede ontstaan en het 365 inwoners waarvan 106 kinders is. Een keer ‘n maand samel WAS vir hulle kospakkies in. Daar is ook elke dag ‘n sopkombuis waar die kinders na skool kan gaan eet.

Riekie Trollip deel kospakkies uit.

Die organisasie is in 2009 deur Esmerelda op die been gebring. Sy het rondloperdiere uit plakkerskampe gaan haal, hulle laat steriliseer en vir hulle nuwe huise gesoek.

In 2011 het sy die Nedbank’s Hero of the Year-toekenning gekry en die organisasie het R10 000 ontvang.

Die organisasie help maandeliks 1 200 mense in Johannesburg. Hulle reik uit na plekke in Krugersdorp, twee plotte in Brakpan, ‘n huis vir veiligheid vir seuns, 15 huisgesinne in Randburg, 60 huisgesinne in Vereeniging en is ook onlangs gevra om ‘n huis vir bejaardes in Germiston te help.

Elize Kruger wys wat als in die kospakkie was.

Die organisasie aanvaar nie kontantdonasies nie, tensy dit vir skoolfonds of ‘n kamp direk in ‘n skool se rekening inbetaal word. Vir haar is dit vreeslik belangrik dat die kinders skool toe gaan en ‘n goeie opvoeding kry sodat hulle eendag uit hulle huidige omstandighede kan kom.

Esmerelda het gesê dat hulle altyd kos of klere as donasies aanvaar, maar dat hulle baie kos nodig het. Sy het vertel dat hulle nie altyd almal kan help nie maar dat ‘n kospakkie so dan en wan darem ‘n bietjie verligting bring.

Hulle het ook altyd idees nodig vir groentetuine en opheffingsprojekte, en daar is altyd ‘n behoefte aan vrywilligers om hulle te help.

Oom Dave Nel het pas sy kospakkie ontvang.

Haar volgende projek is om ‘n huis van veiligheid vir so 60 tot 100 vroue op ‘n plot op die been te kry. Mishandelde vroue en kinders sal daar huisvesting kry en daar sal ook ‘n skooltjie vir die kinders wees. Vroue gaan berading kry en stokperdjies beoefen. Die organisasie beoog om die huis vroeg in 2019 te open.

Een van die ander projekte wat sy wil aanpak is om ‘n plot te kry waar hulle gesinne kan huisves. Haar idee is dat die plot selfvoorsienend sal wees met ‘n skool vir die kinders, groentetuine en plaasdiere.

Vir meer inligting oor hoe jy by die organisasie betrokke kan raak, besoek WAS Foundation se Facebook-blad.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na krugersdorpnews@caxton.co.za of skakel ons by 011 955 1130.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterwebtuistes: 

Randfontein Herald

Roodepoort Record

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button