MunicipalNewsUpdate

[OPVOLG] Vleiloerie nie ‘n prioriteit vir munisipaliteit nie

Nadat inwoners gekla het oor rommelstrooiers wat hul pragtige Vloeiloerie-park in 'n ashoop omskep, verduidelik die munisipaliteit dat die park nie nou bo aan hul lys van prioriteite is nie.

Die News het onlangs berig oor die Vleiloerie-natuurreservaat wat vir ‘lui’ inwoners ‘n maklike plek geword het om rommel te strooi en wat ook deesdae onveilig vir inwoners is om te gaan draf of met hul honde te stap.

Die Mogale City Plaaslike Munisipaliteit het terugvoering gegee oor ‘n paar van die kwessies wat die inwoners pla.

Die News wou weet hoekom ‘n heining nie om die park opgerig kan word soos rondom Kroningspark nie.

Om die aanvanklike artikel te lees, kliek hier:

https://www.citizen.co.za/krugersdorp-news/374900/maandag-vleiloerie-park-net-nog-n-ashoop-vir-die-dorp/

Adrian Amod van Mogale City het gesê dat daar ‘n paar jaar gelede ‘n heining rondom die park was maar dat dit beskadig en gesteel is.

Dit sal nie vir die munisipaliteit finansieel sin maak om die park te patrolleer nie omdat daar in sekere gedeeltes 4×4-voertuie gebruik moet word om te patrolleer.

Hy het egter bygevoeg dat die onderhoud en opgradering van al hul bewaringsgebiede ‘n prioriteit en deel van hul toekomsplanne is.

Hierdie park en Kroningspark is in ‘n groen gordel geleë en die ontwikkeling van die groen gordel is deel van ‘n meesterplan wat in fases opgegradeer sal word. Die opgradering van die ontspanningsaal in Kroningspark is tans heel bo aan die lys, want dit word die meeste deur besoekers gebruik.

Adrian het verduidelik dat die ontwikkeling vir hierdie groengordel-gebiede weens begrotingsbeperkings oor ‘n tydperk van drie jaar beplan word, wat beteken dat daar nog niks vir die Vleiloerie-park beplan word nie.

Volgens ‘n berig wat die News in 2015 gepubliseer het, het die munisipaliteit verskeie beloftes gemaak om die park op te gradeer. Adrian het egter gesê dat hierdie beloftes verwys na die algehele opgradering van die groengordel-gebied waarmee hulle reeds besig is en nie noodwendig vir Vleiloerie insluit nie.

Laastens het die munisipaliteit gesê dat dié wat in die park rommel strooi ‘n boete van tot R10 000 opgelê kan word.

Hulle vra inwoners om die rommelstrooiers se voertuigregistrasienommers neer te skryf en dit by die owerhede aan te meld.

Back to top button