Local newsNews

Nuwe tuiste vir Dominee Jannie se Toekomsvenster

Dié gemeenskapshulp sentrum, met sterk Christelike waardes agter hulle, help diegene wat dit die meeste kort in Krugersdorp op die beste manier wat hulle moontlik kan.

Toekomsvenster sprei hul vlerke al verder en soos hulle groei kan al hoe meer behoeftiges gehelp word.

Met die oog op volgehoue groei het hierdie organisasie na ‘n nuwe en groter perseel verhuis vanwaar hulle soveel meer kan bereik.

Toekomsvenster is nou op die ruim perseel van die Wes-Randse Vereniging vir Fisies Gestremdes in Oatlands. Hulle het hul eie geboue met talle kantore, ‘n werkswinkel en selfs ‘n klank- en video-opnameateljee op hul eie deel van die gronde.

Dominee Jannie Pelser in Toekomsventer se nuwe opname-ateljee. Foto: Jaco Human.

“Toekomsvenster rus tans op vier belangrike pilare,” het dominee Jannie Pelser van die sentrum verduidelik.

In die eerste plek is hulle grootliks gefokus op gemeenskapswerk, naamlik om lede van die gemeenskap wat onder swaar omstandighede lewe sosiale en geestelike ondersteuning te bied. Hulle het tot dusver baie gedoen vir die Appelpark-gemeenskap. Daar is ‘n parkie vir die kleiner kinders ingerig, vir die tieners is ‘n skaatsplankbaan gebou en die ouers word tans gehelp om hul huise op te knap.

In die tweede plek bied Toekomsvenster werkswinkels in houtwerk en naaldwerk aan vir gematrikuleerde jongmense, hoofsaaklik uit Munsieville, wat steeds nie werk kan vind nie om met hul hande te werk. Daarna word hulle geleer hoe om hierdie produkte te verkoop en hulself te onderhou.

Derdens doen Jannie en sy groepie mediabediening in verskeie vorms deur dissipelskapmateriaal op te neem en dit aan gemeentes, kleiner aanbiddingsgroepe en individue te verskaf.

Daar word selfs maandeliks ‘n ‘Bederfpakkie’ aan hul intekenaars gestuur wat allerhande interessante geestelikverwante items bevat .

Jannie neem ook CD’s, radio- en televisieprogramme op in die nuwe ateljee waaraan nog gewerk en uitgebrei word. Hy glo dat hieruit nog baie groot dinge gaan spruit, soos om baie meer opnamegeleenthede aan te gryp, en selfs ‘n weeklikse Facebook-bydrae en YouTube Live-video te doen.

Toekomsvenster beloof om ‘n nog groter impak in die gemeenskap te hê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button