Paartjie ontferm hul vir hawelose wat in straat lê
Andre Fourie kan dele van sy verlede onthou ... maar hy kan jou nie vertel waar hy 'n maand terug gebly het nie. Wat wel seker is, is dat dit 'n hartseerverhaal moes wees wat hom tot in die strate van Krugersdorp gelei het.
Christelle du Plessis en haar man Jacques, wat lede is van ‘n plaaslike gemeenskapsorganisasie, het onlangs gereageer op ‘n oproep oor ‘n man wat in die straat lê.Daar in die koue het hulle vir André Jacobus Fourie gekry. Hulle het vertel dat hy baie verdedigend was en dat dit nie sin gemaak het wanneer hy gepraat het nie.
Hulle het dadelik probeer om hom warmer te maak deur hom met komberse toe te pak, maar dit het nie gehelp nie.
Na ‘n ruk het die ambulans hom kom haal en na die Dr Yusuf Dadoo Hospitaal toe geneem. Andre was baie swak en hy het eers drie dae later die krag gehad om self te kon loop.
Teen Saterdag is Christelle en Jacques terug hospitaal toe om vir hom kos te vat en iets om te drink. Hy is daardie aand om middernag ontslaan.
Hulle het hom gebad, sy hare gesny en vir hom skoon klere gegee om aan te trek voordat hulle vir hom kaartjies gekoop het om by die Tower of Life skuiling vir haweloses te gaan slaap.
‘n Organisasie in Krugersdorp-Wes het gesê hy kan by hulle kom bly maar teen die volgende Sondag het hulle hom teruggeneem Tower of Life toe.
Hulle het vir Christelle laat weet dat hulle dink André ly aan ‘n alkoholsindroom en dat hy te ontwrigtend was.
“Sondagaand het ons saam met hom op die sypaadjie voor Tower of Life gesit en in ‘n helder oomblik kon hy vir ons sy ID-nommer opsê,” het Christelle verduidelik.
Die twee het navorsing gedoen en gevind dat André nou 57 jaar oud is en dat hy 10 jaar gelede sy ID vir die laaste keer gebruik het toe hy in Secunda gewoon het.
André onthou nie veel nie en herhaal homself baie. Die letsels op sy kop wys dat hy ‘n operasie ondergaan het.
Hy onthou niks van die operasie nie; net dat hy in die hospitaal wakker geword het en dat hy vertel is dat hy in ‘n ongeluk was.
Wat hy wel kan onthou is dat hy een van vyf kinders is – vier broers en een suster. Hy het opgewonde van elke broer en sy suster vertel. Hy onthou selfs dat sy een broer oorlede is, en dat hy self blykbaar die jongste van die vyf kinders is.
Hy het vir ‘n ruk by sy broer, wie se naam vermoedelik Hans is, in Rustenburg gebly voordat iemand hom in Krugersdorp kom aflaai het, vermoedelik om werk te soek. Hy was ‘n ketelmaker.
Sy suster Annamarie woon glo in Pietersburg (Polokwane) waar sy ma, Annatjie Fourie ook in ‘n tehuis was voor sy oorlede is.
Sy oë het geblink toe hy vertel het hoe lief hy en sy ma mekaar gehad het, dat sy ‘n Christin was en ‘n fotowinkel bestuur het. Hy wou nie regtig oor sy pa praat nie en het net vertel dat hy in die sestigerjare oorlede is en nie ‘n mooi mens was nie.
Hy het vertel dat hy twee kinders het – ‘n dogter Michelle en ‘n seun Marcelle – en dat hy vermoed dat sy vrou oorlede is, al sê sy ID dat hy nog getroud is.
Dit is onduidelik hoe lank André reeds in die area is of hoe lank hy al op straat bly. Wanneer hy gevra word waar hy geslaap het, het hy vertel dat hy maar ‘n wegkruipplek gesoek het en geslaap het waar dit die veiligste was. Toe hy gevra is wat hy geëet het, het hy skaam afgekyk en geglimlag.
Christelle en Jacques wil graag André se familie opspoor en uitvind hoe hy op straat geëindig het, maar as hulle dit nie regkry nie, of as sy familie nie in hom belangstel nie, sal hulle vir hom blyplek soek.
Indien jy enige inligting het wat kan help om die stukkies van André se storie bymekaar te sit, laat weet die News-joernalis, Natasha Pretorius by natashap@caxton.co.za.

