Kennies se kaskardag is weer om die draai.
Môre, Vrydag, 30 Augustus, verwag Laerskool Kenmare sowat 3 000 besoekers deur die loop van die dag op hul velde. Leerders gaan in klasverband aan ‘n taai kompetisie teen mekaar deelneem. Hierdie langverwagte dag is die perfekte geleentheid vir die jong klomp, wat nog heel kwartaal hard werk, om so bietjie hulle litte los te skud. Die pret begin om en by 9vm.
Hindernisse op die renbaan sluit in ‘n groot brug, ‘n watertonnel, ‘n helling en ‘n watergat waardeur die kaskarre gestoot sal moet word.
“Die voorskoolse kleuters van Knikkies sal elk ook hulle eie beurt kry om die renbaan te toets met hul eie kaskarwedrenne,” het Iza Loubser van Kenmare verduidelik.
Die Graad 7’s sal ook weer hul jaarlikse entrepreneursdag aanbied, en daar sal vele ander kos en produk stalletjies vir besoekers wees. Die entrepreneurskap winste sal later gebruik word om die Graad 7’s se jaarafskeid te help befonds. Die Graad 0- en 00-klasse beman ‘n boereworsrol- en koeldrankstalletjie, terwyl smullekker potjiekos deur die loop van die dag voorberei sal word.
Kontak gerus vir Iza Loubser by 011 955 1081 of by bemarking@kennies.co.za vir verdere besonderhede.

