Een van Solidariteit Helpende Hand se gewilde liefdadigheidswinkels, bekend as Ons Winkel, het pas in Magaliesburg geopen om ’n daadwerklike verskil in die gemeenskap te maak.
Die egpaar Willem en Mariaan de Beer staan aan die stuur van sake by Ons Winkel Magaliesburg, wat deel is van byna 50 soortgelyke skenkingswinkels wat Helpende Hand landwyd bedryf.
Dié Ons Winkel is in Winkel 5 van die Magalies Mall en het Vrydag, 30 Augustus amptelik sy deure oopgemaak.
“Ons sien baie daarna uit om ’n verskil in Magaliesburg se gemeenskap te maak en ons verwelkom alle inwoners met ope arms,” het Mariaan gesê.
Enigiets kan by Ons Winkel aflaai word – van ou klere, meubels, oudhede, kombuisware, beddegoed, gordyne, speelgoed, skoene, sporttoerusting, tegnologiese ware tot enigiets anders wat by die huis in die pad staan.
Ons Winkel neem hierdie goedere en omskep dit in geld wat onder meer vir Helpende Hand se studiefonds benut word. Helpende Hand se studiefonds bied rentevrye studielenings aan behoeftige studente wat kwalifiseer om verder te gaan studeer, maar nie oor die nodige fondse beskik om dit te kan doen nie. Die opbrengs word ook aangewend vir verskeie ander projekte van Helpende Hand wat poog om Afrikaner-armoede te verlig, te verbreek en te voorkom, en dien ook as werkskepping in die gemeenskap.
“Saam en in ’n japtrap kan ons almal ’n groot verskil in die gemeenskap maak; stap bloot net by die winkel in en koop of skenk iets. Dit is die ideale manier om van oorbodige huisware ontslae te raak en te weet dit gaan reg aangewend word om ’n verskil in die gemeenskap te maak,” het Mariaan bygevoeg.
Vir meer inligting of om ’n skenking te maak, bel Mariaan by 061 086 5323.

