Hoërskool Monument het op Vrydag, 30 Augustus ‘n baie spesiale skooltradisie voortgesit toe die 2018/ 2019-matrieks die gesagsoorhandiging aan die 2019/ 2020-matrieks gedoen het.
“Dit word gesien as ‘n groot eer om een van ons tradisies, een van dié waarvoor Monnas baie bekend is, uit te leef,” het Constance Strydom, bemarkingsbestuurder van Monnas gesê.
Dié tradisie is deur die 2015-matriekraad ingestel en hulle wens was dat dié nuwe tradisie in die daaropvolgende jare met respek en eerbied voortgesit sou word.
Die tradisie behels dat die huidige dagbestuur op die eerste Vrydag na die inhuldiging van die nuwe matriekraad, die gesag simbolies aan die volgende jaar se matriekraad oordra.
Die dagbestuur haal dan hul dagbestuurbande af en oorhandig die gesagvaandel aan die nuwe bestuur. Daarna lui die klok en word die Erekode deur die nuutverkose hoofseun en hoofdogter voorgelees.

