Laerskool Kenmare het seker gemaak dat hierdie jaar se Graad 7-entrepreneursdag veel meer ingehou het as in die verlede.
Daar was iets vir elke kind en ouer, en so het elke graadgroep ook ‘n belangrike rol gespeel om die dag ‘n sukses te maak.
Die Graad 7-entrepreneurs het gesorg vir talle stalletjies waar kos, lekkergoed en speelgoed uitgestal en te koop was.

Die Graad 7-groep het onder andere Burp en Slurp yskoue koeldrank op diĆ© warm dag langs die sportveld verkoop. Kokkedoortjies het vullende vetkoeke, cake pops en slush puppies verkoop. Hotrush se koffiemelkskommel, Plaasmeisies se Plaasbrekkie en Koei se Melk het baie aandag geniet. Daar was ook ‘n spookhuis en ‘n massiewe Zorb-bal waarin die meer avontuurlustige besoekers oor die veld kon hardloop.
Teen die middag se kant was die veld gereed vir al die graadgroepe se oefenrondte om die kaskarbaan. Die wedrenne het afgeskop met die kleutergroepe, gevolg deur die Graad 1- tot by die Graad 7-groepe om te sien wie die beste tyd kon aanteken.

Die jongklomp het alles ingesit. Met twee of drie leerders wat die kaskar van agter stoot en een leerder agter die stuur het elke groep oor die baan geblits. Behalwe vir die klompie skerp draai moes die jaers ‘n styl brug, ‘n grondoprit en ‘n modderpoel trotseer.
Teen die aand was daar heerlike potjiekos beskikbaar terwyl gaskunstenaars Wolwe-Dans opgetree het.
‘n Paar duisend mense het die sportveld volgepak en die hele dag saam met die kinders en onderwysers geniet.

