NewsSchools

Norienes-gholfdag word goed ondersteun

Die Norienes-kleuterskool beplan groot uitbreidings aan hul fasiliteite, en het so 'n pretgevulde gholfdag gereël om te help fondse insamel.

Leer en lekker speel is elke dag se tema by die Norienes, want Laerskool Krugersdorp-Noord se eie kleuterskool maak seker dat die voorskoolse jongklomp gereed gemaak word vir die grootskool. Die afgelope jaar het die Norienes-bestuur hard gewerk om die skool te verbeter en uit te brei.

Die skool het onlangs weer hul jaarlikse gholfdag by die Krugersdorp Gholfklub aangebied en het ‘n groot aantal ouers, plaaslike besighede en dorpenaars genooi om deel te neem.

Nicky Basson is tevrede met sy eerste afslaanpoging. Foto: Jaco Human.

“Ons het ‘n volbaan met spelers gehad met meer as 15 geborgde putjies,” het Norienes-hoof, Estie Ellis genoem. “Dit was vir ons moontlik om vir 144 spelers elkeen ‘n prys te gee. Ons eerste vyf plekke het spesiale pryse ontvang.”

Maar, dit het klaarblyklik glad nie net oor pryse of die kompetisie tussen vriende en familie gegaan nie, alhoewel daar baie daarvan was. Dit het eintlik net daaroor gegaan om die skool te ondersteun en te wys dat Krugersdorp bankvas agter hulle staan. ‘n Goeie som geld is toe ingesamel om die skool te help.

Gregory Rood hoop sy bal mis die sandkuil. Foto: Jaco Human.

“Hierdie gholfdag was baie spesiaal omdat dit ons fondse kon aanvul om ons nuwe fase van uitbreiding moontlik te maak. Ons bou nog vier klaskamers en badkamers aan. Ons het reeds 11 klaskamers maar groei so dat ons genoodsaak is om nog te bou,” het Estie verduidelik.

Die skool gebruik geleenthede soos hierdie ook om genoeg fondse in te samel om die finansiële druk op die ouers ligter te maak.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button