Local newsNews

Wian se groot geskenk, hy kan weer hoor.

Hearcare het gevoel hulle moes inspring en doen wat hulle kon om die vierjarige Wian Swarts te help hoor sodat hy weer op skool kon fokus en 'n normale kinderlewe geniet.

Op vier jaar oud leer Wian Swarts nog elke dag waar ‘n nuwe en vreemde klank vandaan kom … klanke wat hy nog nooit tevore gehoor het nie, soos hoe dit klink as iets val of die klank van ‘n motor wat in die verte aankom.

Hy het selfs nie eers geweet hoe ‘n hond se geblaf klink nie.

Wian Swarts kan danksy die hulp van dokter Liezel Opperman weer hoor. Foto: Jaco Human.

Aan die begin het Madelaine Swarts, Wian se ma, gedink dat haar jong seun sekere goed net stadiger aanleer en waarneem as sy ouer broer toe dié daardie ouderdom was. ‘n Spraakterapeut het egter gou besef dat Wian eintlik ‘n gehoorprobleem het.

Hy is op die ouderdom van twee met ernstige gehoorverlies in albei ore gediagnoseer, wat beteken het dat hy byna niks kon hoor nie. Daar was wel ‘n kans dat hy gehelp kon word om weer te hoor.

Daar is ‘n gehoorstuk vir Wian geskenk, maar hy het dit ongelukkig later verloor. Hy moes lank sonder die apparaat oor die weg kom, en kon nie eers hoor wanneer iemand naby hom gestaan het en sy naam genoem het nie. As gevolg hiervan het hy ver agtergeraak met sy skoolwerk, en onderwysers het gesukkel om met hom te kommunikeer.

Iets moes gedoen word, en sy ouma, Annemarie le Grange het begin rondbel. Hulle het uiteindelik by Hearcare in Monument en die gehoorapparaatvervaardiger Beltone uitgekom.

Wian het ‘n ouditiewe breinresponstoets ondergaan waartydens plakkers op hom geplaas is terwyl hy geslaap het om sy response te meet. So kon hulle die vlak van gehoorverlies bepaal.

In samewerking met Beltone het dokter Liezel Opperman, oudioloog, vir Wian ‘n nuwe gehoorapparaat gekry, gevorm en verstel, om presies vir hom te pas.

Liezel sê dat dit nooit te vroeg is om ‘n kind vir ‘n gehoortoets te neem nie. ‘n Baba kan al op sy eerste dag in die wêreld getoets word en ‘n gehoorapparaat ontvang. Dit kan noodsaaklik wees vir sy ontwikkeling.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button