Die jaar was 1919. Krugersdorp was skaars drie dekades oud en meer en meer mense het na hierdie myndorp gestroom.
Saam met die myners en kleinbesigheidseienaars het hul familie en kinders gekom, en ‘n tekort aan skole het ontstaan. So is Laerskool Krugersdorp-Noord ‘n hele 100 jaar terug gestig met net twee klaskamers, ‘n kantoor en ‘n opwaskamer.

Noordskool het amptelik 100 jaar oud geword op Maandag, 7 Oktober en vieringe het deur die dag in die saal, klaskamers en op die sportveld plaasgevind.

Die oggend was veral spesiaal. Die saalbyeenkoms is met gebed en lofsang geopen. Drie voormalige skoolhoofde het by die huidige hoof, Charles Miller op die verhoog aangesluit vir ‘n lang verwagte onthulling. Gerrie van Rooyen, die sesde hoof, was vir 10 jaar hoof van Noordskool. Na hom was Andries Kruger vir sewe jaar, Herman Groenewald vir 11 jaar en nou Charles vir reeds nege jaar die hoof.
‘n Beeld van ‘n arend (die skool se kenteken), wat deur beeldhouer Martyn Schickerling gekerf en gegiet is en oor ‘n stewige rots in ‘n sweefposisie geplaas is, is ten aanskoue van al die opgewonde leerders en onderwysers onthul. Die beeld sal ‘n prominente plek by die skool kry om hul tradisies en waardes van die afgelope eeu uit te beeld.
Noordskool het ook dié dag ‘n nuwe tradisie begin wat hulle hoop sal deur die volgende 100 jaar gehandhaaf word. ‘n Tydkapsule, in die vorm van ‘n pragtige hout-en-leertas, wat Noordskool se Reistas genoem word, sal jaarliks met mementos van die skool gevul word. Sover bevat die tas ‘n 100 jaar oue Noordskool-pet, ‘n dagboek, Graad 1-inligtingstuk, atletiekprogram, 100 jaar-briefhoof wat net vanjaar gebruik word, ‘n voorbeeld van ‘n rapport, onderwysersgids, skryfbehoeftes, koerantuitknipsels en briewe van die hoofseun en hoofdogter van 2019.

Die tas sal elke jaar aangevul word, en sal eers weer in 2025 in die openbaar oopgemaak word wanneer hierdie jaar se Graad 1’s in Graad 7 is.
Die beeld en tas sal ook by die 100 jaar vieringe op Saterdag, 19 Oktober te siene wees wanneer die skool, oudleerders en hul gemeenskap saam die verlede sal vier en uitsien na wat in die volgende eeu gaan gebeur.

