NewsSchools

Noordheuwel se Minke se eenvroustuk wen by ATKV-Tienertoneelkompetisie

Haar produksie ontvang R30 000, die ATKV-Tienertoneelwisseltrofee en ’n speelvak tydens die Klein Karoo Nasionale Kunstefees van 2020.

Maande se harde werk is verby vir die 18 groepe hoërskoolleerders wat sake uitgespook het om as wenner van die ATKV-Tienertoneel 2019 aangewys te word. Die finaal het op 25 September by die Adam Small-teater in Stellenbosch plaasgevind.

Die wenproduksie is Waterbrief, ‘n eenvroustuk van Hoërskool Noordheuwel se Minke Meyer. Hulle ontvang R30 000, die ATKV-Tienertoneelwisseltrofee en ’n speelvak tydens die Klein Karoo Nasionale Kunstefees van 2020. Minke het ook die toekenning as beste aktrise vir haar spel ontvang. Hierdie eenvroustuk het die beoordelaars behoorlik beïndruk met die ernstige ondertoon en donker temas.

Hoërskool Noordheuwel se Minke Meyer se eenvroustuk het die ATKV-Tienertoneelkompetisie gewen. Foto: Ingestuur.

Die sinopsis van Waterbrief lees: “God breek ’n hart tot die hart oop bly, en dag na dag is Nina vasgevang in ’n montage van haar familie wat uitmekaar val sonder haar. Sy word wakker in die mure van haar huis. Sy is orals en sy is nêrens, en sy aanskou haar gesin se kronkelpad-reise op soek na die droom van nuwe lewe wat begin.”

Die ATKV het vanjaar twee nuwe toekennings daargestel om die kreatiwiteit – in die vorm van kostuums en grimering – van die produksiespan te beloon. Die toekenning vir die beste grimering word gedeel deur Hoërskool Noordheuwel vir Waterbrief en die slegs leerders-produksie van Hoërskool Parel Vallei – Bruwelik.

Nog ‘n Norie-leerder, Nina Smith, is huis toe met ‘n toekenning, dié keer vir die beste aktrise in ’n ondersteunende rol. Nina het die rol van Lallie in Noordheuwel se ’n Brug na die sterre vertolk

Die beste aktrise in ’n ondersteunende rol was Nories se Nina Smith.

Die ATKV-Tienertoneelkompetisie is al vir 55 jaar ’n platform vir talent- en teaterontwikkeling. Hierdie projek bied aan hoërskoolleerders die geleentheid om betrokke te raak by alle aspekte van teater, soos toneelspel, regie, skryf van tekste, kostuums, grimering, dekor, klank, beligting, verhoogbestuur en choreografie.

Ongeveer 4 000 hoërskoolleerders het vanjaar deelgeneem aan die 213 produksies wat tydens 12 ATKV-Tienertoneelstreeksfeeste landswyd en in Namibië opgevoer is. Jong voornemende teatermakers het die verhoë warm gespeel, gehore vermaak, ontroer en bekoor en uiteindelik is die beste produksies na die finaal genooi.

Drie skole – Hoërskool Tygerberg, Hoërskool Zwartkop en Hoërskool Noordheuwel – het elkeen twee produksies in die finaal gehad.

Vanjaar se beoordelaars was Craig Morris, Esther von Waltsleben, Ilse Oppelt, Ismail Mahomed, Jacques Bessenger en Tertius Kapp.

“Dis vir my wonderlik hoe ongelooflik kreatief daar met teaterelemente omgegaan word. Dis esteties mooi en raak ’n mens se hart aan, en boonop is die stories wat vertel word, uiters relevant en nodig vir die samelewing om te hoor. Kwessies soos geweld teen vroue, tieners se daaglikse lewe, vriendskappe, tienerseksualiteit, die dood en die liefde kom onder die loep. Tienertoneel is mooi en opreg en sonder pretensie!” het projekorganiseerder, Lizané Basson, gesê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button