Local newsNews

Bejaardes geniet bederfoggend

Elke jaar sien Grain Care toe dat bejaardes van die Wes-Rand deur kunstenaars vermaak word terwyl hulle met lekkernye, geskenke en 'n smullekker ete bederf word.

Oor die 400 bejaardes van Krugersdorp, Roodepoort en Randfontein het op Donderdag, 10 Oktober bymekaargekom vir ‘n dag van bederf en kuier.

Eenmaal ‘n jaar sit die Grain Care Trust alles in om die lede en inwoners van talle sentrums en tehuise te vermaak.

Elkeen het ‘n geskenkpakkie ontvang toe hulle by die NG Kerk Suiderlig se saal ingestap het. Op die tafels was daar lekker biltong, fudge, skyfies, verskeie koeldranke, water en sap vir die gaste om te geniet. Daar het boonop nog ‘n smullekker ete vir hulle voorgelê.

Elke jaar reël Grain Care ‘n kunstenaar om op te tree en met die gaste te gesels, en vanjaar was dit Pieter Smith. Sy optrede het nuwe gees in die funksie geblaas en die bejaardes het meegedoen deur op maat van die musiek te wieg, terwyl een of twee selfs saamgesing het.

Daar is deur die loop van die dag 252 pryse uitgedeel as deel van die gelukstrekking, met die gevolg dat meer as 60 persent van die gaste met nog iets ekstra huis toe is.

Grain Care is ‘n niewinsgewende organisasie wat deur Unigrain, Grain Carriers en Grain Logistics gestig is om waar hulle kan ‘n verskil te maak in die lewens van bejaardes, kinders, gesinne, honger persone en enigiemand met ‘n ernstige tekort aan iets lewensbelangrik.

Sonder al hul mededonateurs sou Grain Care nie gereeld sulke groot projekte kon implementeer nie. Nola (RCL) het vir elke bejaarde ‘n geskenkpakkie met Nola-produkte gegee.

Yolandi Romarin van Bakery Delights het vir elkeen ‘n kolwyntjie gegee, benewens die 10 koeke wat sy vir die funksie geskenk het. Unigrain se Gert van der Walt het die pakkies droëwors en fudge voorsien. Verskeie ander besighede in die areas het ook bygedra om die dag perfek te maak.

Kliek hier vir meer foto’s

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button