NewsSchools

Nories help die Boks vir Boervrou-projek

Die Nories se harte is aangeraak deur die nood van boere regoor die land en het besluit om alles moontlik te doen om te help deur honderde bederfbokse in te samel.

Die Boks vir Boervrou-projek is nou al meer as ‘n maand aan die gang.

‘n Ontelbare aantal mense en besighede het reeds saamgestaan om elkeen ‘n boks of twee, of meer, met benodigdhede te pak. Die bokse is oor die land heen aan boere in die droogtegeteisterde gebiede gestuur wat in moeilike omstandighede ‘n bestaan te probeer maak.

Hoërskool Noordheuwel het ook van die projek te hore gekom.

“Ek het op Facebook gesien van die vrou wat dankie sê vir ‘n boksie en dat dit so lekker was om een te kry. Sy het vertel dat sy en haar man ‘n cappuccino gedeel het.

Dit gaan swaar,” het Sonet Guy van Hoërskool Noordheuwel vertel van die woorde wat haar hart aangeraak het.

Kayleigh de Beer het voor haar eksamen kom help. Foto: Jaco Human.

Die plasing van die anonieme boervrou het gelees: “Met ‘n huppel in my stap en ‘n hart vol dankbaarheid en hoop gaan bak ek die eiers en sien uit na die pakkie cappuccino wat ek en my man gaan deel. Dankie Here, iemand gee om.”

Dit was nie lank nie toe is die hele Noordheuwel aan boord met die Boks vir Boervrou-projek. Teen die einde van Oktober het die skool, in samewerking met tehuise vir bejaardes, besighede, gemeenskapslede, hul leerders en personeel 641 bokse ingesamel.

Die bokse is gevul met ‘n verskeidenheid items, soos tandeborsels, seep, sjampoe, room, waslappe, kos, bederfies en vele meer.

Dewald Woest help die bokse laai. Foto: Jaco Human.

“Ons het nie net boksies gepak vir boervroue nie. Ons het gesê manne, vroue, oupas, oumas, tieners en kleintjies. Die hele skool kon pak wat hulle wou,” het Sonet verduidelik.

“Party het cappuccino-sakkies ingesit, party het vir dogtertjies haarrekkies gepak, of badkamergoedjies.”

Oorspronklik is gevra dat elke klas vyf bokse insamel. Die Nories het hulself oortref en baie meer bokse gevul.

Die Graad 9’s is een Donderdagoggend voor ‘n eksamenvraestel ingespan om die honderde bokse van die personeelkamer af tot by die twee bussies te dra. Albei minibussies was gou dakhoogte gelaai en uitgestuur. Die bokse is na die Vroue Landboufederasie in Wellington gestuur wat dit sal uitdeel waar dit nodig is.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Janine Viljoen

Janine Viljoen is a seasoned journalist with more than 17 years’ experience. She has worked as a newspaper editor, mentored numerous journalism students, and is currently the sub-editor for the award-winning Caxton Joburg West publications. Her passion lies in developing young journalists and telling compelling human-interest stories.
Back to top button