NewsSchools

[FOTO’s] Groot makietie en jolyt om 100 jaar te vier

Na 'n heerlike warm dag van jolyt en 'n besige aand van sing en dans, het die twee dae se vieringe tot 'n einde gekom.

Die naweek van 18 en 19 Oktober was beslis ‘n besige ene vir Noordskool se personeel, leerders en ouers. Hulle het groot makietie gehou om die skool se mylpaalverjaarsdag van 100 jaar te vier!

Hoof Charles Miller en sy personeel het gesorg dat al die leerders en hul ouers saam met die gemeenskap die skool se verjaarsdag kon vier. Daar was ‘n jolige speelpark met pretritte, en topgehalte vermaak.

Professor David Block wat ruimtenavorsing gedoen het, doen ‘n kort bedanking tydens die Verlede-hede Funksie.

Tydens die Verlede-hede Funksie op die Vrydagaand is daar eers hulde gebring aan oudleerders wat groot sukses in hul lewens behaal het.

Oudleerders soos die voormalige Springbok-rugbyspeler Julian Redelinghuys; Scott Spedding wat vir die Franse Hane uitgedraf het; kliniese sielkundige dr Wollie Hartman; dr Jandeli Niemand (PhD Biochemie); Karlin Kock wat op die Unisa Ererol vir musiek verskyn; professor David Block wat ruimtenavorsing gedoen het; en Gert Visser (wie se pa destyds burgemeester van Krugersdorp was) is bedank vir die bydrae wat hulle in die samelewing lewer. Daar is 32 genooi, maar net 18 kon daar wees. Elke oudleerder het ‘n aandenking gekry terwyl daar vertel is van hul suksesse.

Tydens die aand se verrigtinge het Charles ook verskeie gedenkmure bekendgestel waarop die name van hierdie leerders gemonteer is. Maar dit was beslis die Saterdag se groot fees wat die toppunt van die vieringe was.

Al van vroeg die oggend af was die skool se rugbyveld een groot pretpark. Die dag het begin met ‘n motorskou, babakompetisie en ‘n potjiekoskompetisie. Maar toe die hitte so ‘n bietjie begin wyk het en die son begin water trek het, was dit die gaskunstenaars se beurt om almal te vermaak.

Tanya V van Randfontein was beslis ‘n gunsteling op die verhoog. Foto: Janine Viljoen.

Eerste aan die beurt was die Penkoppe Boereorkes, gevolg met sanger Willie Kasselman. Daarna het die bekende Tanya V van Randfontein die gehoor laat dans terwyl sy radiogunstelinge gesing het. Toe dit behoorlik donker was en die rugbyveld byna volgepak was, het Afrikaanse superster Steve Hofmeyr die verhoog betree en sy bekendste en gewildste liedjies gesing.

Na ‘n heerlike warm dag van jolyt en ‘n besige aand van sing en dans, het die twee dae se vieringe tot ‘n einde gekom. Dit was beslis een van die hoogtepunte in die skool se geskiedenis.

Charles het belowe dat die volgende 100 nog groter en beter gaan wees.

Kliek hier vir meer foto’s

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button