Local newsNews

[FOTO’s] Kenmare-gruwelhuis ‘n kopseer vir almal

Die huis in Kenmare staan nou al van September 2018 leeg en volgens bure is dit 'n trekpleister vir kriminele elemente.

Dié huis, op die hoek van Foyleweg en Ardtullystraat is al ‘n geruime tyd lank ‘n kopseer vir die inwoners van die area. Daar is nie meer ‘n geyser of enige kragpunte nie, die vloere sal oorgedoen moet word, die krane is uitgebreek en gesteel, die huis is vol vullis en die mure vol graffiti. Daar is ou matrasse en lessenaars in die buitevertrekke en die gras staan hoog.

Raadslid Andries Eksteen het vertel dat die huis aan die Departement van Gesondheid behoort en dat hulle dit vroeër jare aan ‘n dokter verhuur het.

Daar is amper niks van die kombuis oor nie.

Die dokter het die motorhuis se deur toegebou om dit en die buitekamers vir ‘n ekstra inkomste te verhuur. Nadat sy die huis ontruim het, het dit leeggestaan en dit was ‘n uitnodiging vir kwaaddoeners om dit te gebruik.

Liebenberg het vertel dat Nigeriërs al die huis vir dwelmhandel gebruik het, ‘n prostituut het haar kliënte daar onthaal en deesdae gebruik jongmense die huis vir onderduimse dinge.

Eksteen het by die Departement van Gesondheid gaan navraag doen, en dr Bandile Masuku, Lid van die Uitvoerende Raad vir Gauteng, het terugvoering gegee.

‘n Matras van iemand wat voorheen in die huis gebly het.

Masuku het in ‘n verklaring verduidelik dat die huis die eiendom van die Departement van Infrastruktuurontwikkeling (DIO) is en oor die jare deur die Leratong Hospitaal-personeel as woonplek gebruik is.

Die vorige huurder het net R2 000 per maand huur betaal en sedert die huurder die huis in September verlede jaar ontruim het, staan dit leeg.

Masuku het verduidelik dat dit vervalle geraak het en die hospitaalpersoneel nie meer daar wou bly nie.

Volgens die verklaring is daar met die Departement van Gesondheid se Eiendomsbestuursafdeling gekonsulteer om ‘n oplossing te vind. Daar is besluit dat die huis aan die DIO oorgedra sal word, wat sal besluit of hulle die huis gaan opknap of opveil, aangesien hulle die regmatige bewaarders van alle staatshuise is.

Daar is reeds ‘n voorlegging vir die oordrag van die huis aan die Eiendomsbestuursafdeling gedoen.

Verder sê die verklaring dat daar gereelde inspeksies by die huis gedoen sal word tot die oordrag gedoen is om verdere skade daaraan te probeer voorkom.

Liebenberg het vertel dat die inwoners hul buurt probeer mooi maak, maar dat dié huis ‘n seeroog is. Volgens hom is dit ook die ideale wegkruipplek vir misdadigers.

Hierdie huis, wat vermoedelik ‘n pragstuk was, sal intussen net so vervalle bly.

Kliek hier vir meer foto’s

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button