Local newsNewsUpdate

“‘n Klein lyfie wat groot skoene volgestaan het” – Buys-gesin praat na Heather se dood

Die Buys-gesin wil vir die gemeenskap dankie sê vir die oorweldigende ondersteuning wat hulle ontvang het na die afsterwe van Heather Buys.

“Sy was ‘n een-uit-‘n-miljoen mens; jy kry nie baie mense soos sy nie.” So het Gerhard Buys sy oorlede vrou Heather beskryf.

Die 64-jarige Heather het op 22 Oktober in ‘n tragiese motorongeluk voor Key West-winkelsentrum gesterf. ‘n Bestuurder in ‘n Ford Ranger Wildtrak het teen ‘n hoë spoed met haar Bantam-bakkie gebots toe Heather regs wou draai in Voortrekkerweg en die Wildtrak die R28 wou oorsteek.

Gerhard het vertel dat hy daardie oggend met ‘n verskriklike gevoel opgestaan het en nie kon fokus nie. Heather en hul seun Deon is om 9.30vm by die huis weg. Later die oggend het Gerhard die boodskap oor die ongeluk op ‘n WhatsApp-groep gesien, en gedink hy moet sy vrou waarsku om die area te vermy.

Lees die oorspronklike artikel hier:

https://www.citizen.co.za/krugersdorp-news/393300/video-horrific-accident-brings-traffic-standstill/

“Sulke goed het haar altyd ontstel; sy was ‘n baie sagte mens,” het hy gesê.

Hy was omgekrap omdat sy nie haar foon beantwoord het nie, en het besluit om met haar daaroor te praat as sy terugkom.

Teen 11.30vm het Deon gebel en gesê sy ma het hom nog nie by die skool gaan haal nie.

Gerhard het toe besluit om self vir Deon te gaan haal en begin bekommerd raak omdat hy nie sy vrou in die hande kon kry nie. Op pad skool toe het hy verby die ongelukstoneel gery maar kon nie die voertuie sien wat betrokke was nie. Hy het sy seun opgelaai en is op pad terug weer verby die ongelukstoneel.

Hy het tussen die twee ambulanse deur die agterruit van sy Bantam-bakkie herken, en iemand gevra of ‘n Bantam in die ongeluk betrokke was.

Die Ford Ranger Wildtrak het met Heather Buys se Bantam-bakkie gebots en sy is op slag dood. Foto: Jaco Human.

Toe die persoon ja sê het hy uitgespring maar iemand het vir hom geskree, “Jy mag nie daar in nie, dis ‘n geslote toneel, daar is mense dood”.

Gerhard het vertel dat daar op daardie oomblik nie genoeg mense was om hom te keer nie, en toe hy tussen die twee ambulanse deurgaan het hy die nommerplaat erken.

“Toe weet ek dit is sy; toe weet ek ook hoekom sy laat was,” het hy sag gesê.

Gerhard en Heather het 27 jaar gelede begin uitgaan en was 21 jaar getroud. Hy het vertel dat sy ‘n klein vroutjie met ‘n groot hart was, maar dat sy ook bitsig kon wees en nie nonsens geduld het nie.

“Heather het alles huis toe gedra; alles wat gelewe het was vir haar ontsaglik belangrik en sy het alles wat klein was, vertroetel,” het Gerhard trots vertel.

Lees ook:

https://www.citizen.co.za/krugersdorp-news/380906/watch-bakkie-rolls-after-swerving-out-for-a-stationary-car-in-the-middle-of-robert-broom-drive/

Hy het verder vertel dat so drie of vier minute nadat hulle van die ongelukstoneel af by die huis stilgehou het, was daar reeds hordes mense om hulle te kom help en te ondersteun. Hy het vertel van die ongelooflike skenkings wat hulle uit die gemeenskap ontvang het. Een spesifieke skenking wat hulle opgeval het, was dié van ‘n jong seun.

Hy het gebel en vertel dat hy net R18 van sy sakgeld oor het. Hy wou dit graag skenk maar het nie geweet of dit dalk te min was nie.

Die familie het gesê dat dit juis skenkings soos daardie een was wat hulle na aan die hart lê; mense wat hul laaste bietjie wou gee om die familie te help.

Die gemeenskap het saamgestaan om die familie te help, en mens besef eers hoekom wanneer jy met Heather se naasbestaandes gesels.

Heather, Gerhard, Deon en hul dogter Joanna het nog altyd uit hul pad gegaan om ander te help. Skaars ‘n week na die ongeluk het die familie ingespring om hul bure te gaan help toe drie huise afgebrand het.

Deon het selfs by die skool die Lions-toekenning gekry vir onselfsugtige en onbaatsugtige diens, saam met ses ander toekennings vir akademie.

Hy was sy ma se trots, het Gerhard vertel.

“Elke mens wat my ma raakgeloop het, het van Deon se prestasies gehoor,” het Joanna trots vertel.

Deon het die dag na die ongeluk reeds sy eerste matriekvraestel geskryf, en die familie het gesê dat hulle so dankbaar is teenoor Krugersdorp High School en alles wat hulle gedoen het en steeds doen om Deon te akkommodeer en te help.

Maragon Skool het ook ingespring om vir Deon ekstra klasse te gee.

Hulle bedank ook vir Ansie en Mornay Engelbrecht van Anmor Begrafnisdienste vir die hulp met die begrafnis, en vir Gerda Roos wat gesê het sy kan nie finansieel bydra nie maar het ‘n koek gebak vir die familie by die begrafnis.

“‘n Groot dankie gaan aan Werner van Deventer van Fairwell Tombstones wat die grafsteen geskenk het, en ook aan die publiek, maatskappye, familie en vriende wat kontant, kruideniersware, eetgoed by die kerk en nog meer geskenk het, asook vir elkeen se gebede en ondersteuning.

“Ons was ‘n hegte gesin en sy was die middelpunt van ons bestaan. Daai klein lyfie het sulke groot skoene volgestaan,” het Gerhard ter nagedagtenis gesê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button