Die plaaslike Vryheidsfront Plus is baie bekommerd omdat die Wes-Rand Distriksmunisipaliteit (WRDM) die verantwoordelikheid van noodsaaklike brandbestrydingsdienste aan plaaslike munisipaliteite wil oordra.
Raadslid Amanda de Lange het in ‘n persverklaring gesê dat dié besluit van die WRDM sal bydra tot die verdere ineenstorting van die Mogale City, Merafong en Rand-Wes Plaaslike Munisipaliteite.
“Dit bewys die VF Plus se standpunt dat distriksmunisipaliteite faal en nie die dienste lewer wat hulle wetlike verplig is om te lewer nie. Die VF Plus is van mening dat distriksmunisipaliteite afgeskaf moet word en dat besluite oor diensverskaffing nader aan gemeenskappe gebring moet word,” is De Lange se mening.
Die vraag wat ook gevra moet word, is of die befondsing om hierdie dienste te kan verskaf aan die plaaslike munisipaliteite oorgedra gaan word.
“Die WRDM het tydens sy jongste raadsvergadering aangekondig dat hy nie meer verantwoordelik kan wees vir die lewering van noodsaaklike dienste aan munisipaliteite nie. ‘n Proses om die dienste terug te gee aan die plaaslike munisipaliteite het reeds begin en sal waarskynlik op 1 Januarie 2020 in werking tree.
“Die VF Plus bevraagteken hierdie besluit omdat die WRDM nie by magte is om hierdie besluit te neem sonder insette van die Gautengse Provinsiale Wetgewer nie.”
Sy het genoem dat finansiële verslae aandui dat die WRDM se skuld aan sy diensverskaffers, soos vir die huur van brandweerwaens, reeds R86 miljoen beloop.
“Die geldelike verlies wat die WRDM ly word deels toegeskryf aan die rekeningkundige stelsel se onvermoë om ‘n behoorlike rekening op te stel. Die gevolg is dat die WRDM duisende rande met elke brandbestrydingsaksie verloor.
De Lange het ten slotte gesê dat die VF Plus die aangeleentheid op provinsiale sowel as nasionale vlak sal bespreek en ondersoek om te verseker dat die plaaslike munisipaliteite nie deur hierdie besluit benadeel word nie.

