Marius verskaf ‘n bietjie boeretroos om jou dag behoorlik te begin
Marius Boshoff verkoop elke dag lekker warm koffie aan die vroegoggend-pendelaars.
Wat is beter as om jou eerste koppie boeretroos en ‘n vriendelike glimlag op pad werk toe te kry?
Die 58-jarige Marius Boshoff verskaf so ‘n diens aan motoriste by die ‘langnaweekrobot’ by die Voortrekkerweg-en-Barratstraatkruising. Saam met elke houertjie koffie kry jy twee pakkies suiker, ‘n lepeltjie om mee te roer en ‘n Bybelversie.
Marius staan langs die pad met sy stalletjie waar hy sewe liter filterkoffie reg hou vir sy klante. Hy verkoop ook droëwors, biltong en tuisgebakte koekies wat hy en sy vrou saam bak.
Vir hom is die heel belangrikste om positief te bly. Hy het verduidelik dat hy oor die afgelope vier jaar om en by 1 200 keer sy CVs uitgestuur het maar nog nie werk kon kry nie. Hy het 12 jaar vir Caltex gewerk as ‘n verkoopsverteenwoordiger. Nou verkoop hy koffie en doen alles wat hy kan net om ‘n geldjie te maak om sy lewenspolis te betaal om vir sy vrou voorsiening te kan maak.
“Ek kan nie net bedel nie; ek moet ‘n diens lewer. Ek dink ek lewer wel ‘n diens,” het hy trots vertel.
Maar dit is nie al waarmee Marius homself besig hou nie, hy doen ook spyseniering vir partytjies. Daarby bak die egpaar koekies op bestelling, en hy verkoop huisnommers.
Hy het verlede jaar met die koffieverkopery begin en een van sy klante het toe vir hom ‘n werk in die Oos-Kaap gekry. Die plaas is egter verkoop en hy moes terugkom Krugersdorp toe.
Marius se oggende begin baie vroeg want hy staan net na 4vm op om met die koffie te begin. Teen 6.30vm is hy reeds besig om dit by die kruising te verkoop. Hy het vertel dat hy gewoonlik so 8vm huiswaarts keer en dat hy op ‘n goeie dag al sy koffie verkoop.
“Die publiek is awesome; al die donasies en hul ondersteuning is wonderlik. Die Here is goed vir my,” het hy gesê.
Die News het Marius se koffie beproef en sal beslis weer by hom koop.
Vir koekiebestellings, kwotasies vir spyseniering of enige ander inligting, skakel gerus vir Marius by 083 774 5328.

