Amateurdigters, dié is vir julle
Jan Breet is lief vir skryf en hy wil graag ander skrywers bymekaar kry om hul werk te deel.
Jan Breet is ‘n man wat kleur gee aan woorde. Hy gebruik sy gedigte en kortverhale om stories te vertel en sy temas wissel van die harde realiteite van die wêreld tot ligter vermaak.
Hy het vertel dat hy deesdae meer tyd het vir skryf en al kan hy nie die presiese oomblik onthou toe hy op skryf verlief geraak het nie, was dit maar nog altyd deel van hom.
“My pa kon stories goed vertel en mense wou altyd daarna luister,” het hy verduidelik. Dit kan dalk ook die rede wees waarom hy homself deesdae in woorde laat wegraak.
Hy wil graag kontak maak met ander amateurdigters in die area om ‘n soort amateurdigtersklub op die been te bring. Hy beoog dat die klublede een keer ‘n maand bymekaar kom om hul werk met mekaar te deel, te bespreek en sommer saam te kuier.
“Soms het mens net iemand nodig om met ‘n ander oog na jou werk te kyk.”
Dit is ook nie net amateurdigters wat deel van die klub kan word nie. Kortverhaal- en ander skrywers is ook welkom.
Indien jy jou woordkuns met die wêreld wil deel, stuur vir Jan ‘n WhatsApp-boodskap by 074 478 1111 om meer uit te vind.

