Kouspoppe vir kinders in nood
Hoërskool Noordheuwel se Graad 8's het hierdie jaar sowat 460 kouspoppe self gemaak en aan Matla A Bana geskenk om te help met hulle projekte waarby mishandelde kinders baat.
Vier jaar gelede het Hoërskool Noordheuwel besluit om hul groot Graad 8 Kuns- en Kultuurjaareindprojek anders aan te pak.
‘n Lappop-projek is begin, wat hierdie jaar na ‘n kouspopprojek verander is.

“Voorheen is ‘n kleiprojek gedoen, maar ek was hartseer as ek gesien het hoe van die projekte uiteindelik in die asblik beland het. Ons wou nie dat die goeie en harde werk so gemors word nie en het eerder hierdie projek begin,” het onderwyseres Jeanine de Kock verduidelik.
Sowat 460 Graad 8’s het hierdie jaar elkeen ‘n paar kouse, vulsel en patrone gekry, en hulle kon na hartelus ‘n indrukwekkende kouspop eiehandig maak.
“Baie kinders kry nie die geleentheid om iets vir liefdadigheid te doen nie. Hierdie projek gee hulle daardie geleentheid,” het Jeanine gesê terwyl sy die poppe gereed gekry het vir oorhandiging aan Matla A Bana, ‘n organisasie wat die polisie help om mishandelde kinders uit haglike omstandighede te verwyder en ‘n beter lewe te bied.
Sy het verduidelik dat elke leerders iets van hom- of haarself gee wanneer hulle die unieke poppe maak en dit indirek aan ‘n mishandelde kind gee wat dit moontlik op daardie stadium werklik die meeste nodig het. “Daar is iets spesiaal daaraan. Vir daardie kind is dit baie meer as net ‘n pop want hulle kan die harde werk en sorg aanvoel waarmee die pop gemaak is.
“Dit is uniek, want dit is kinders wat uitreik na ander kinders,” het Lizel van Eeden, Matla A Bana-projekbestuurder vertel.
Matla A Bana maak troospakkies op met items soos sanitêre produkte, onderklere, peuselhappies en ‘n sagte speelding. Lizel het vertel dat hulle verlede jaar meer as 30 000 kinders landswyd kon help aanpas by die groot veranderinge in hul lewens, en dat hulle hoop om in die komende jare verder te groei. Hulle kort egter baie hulp van die publiek om die items in te samel.
Kontal gerus vir Lizel by 073 171 1031 of besoek hul webtuiste by https://www.matlaabana.co.za om vas te stel hoe gehelp kan word en waar hulp nodig is.

