Trudie Naude, die raadslid vir Wyk 38, wil graag vir haar gemeenskap dankie sê vir die afgelope jaar. Sy het ‘n brief aan die News gestuur.
“Ons staan aan die einde van nog ‘n jaar en baie het gedurende die jaar in Wyk 38 gebeur. Dit is tyd om dankie te sê aan almal wat my deur die jaar gehelp en ondersteun het,” verduidelik sy in die brief.
Sy verduidelik dat dit ‘n bedrywige jaar was en dat baie werk voor, tydens en na die verkiesing verrig is.
“Daar is talle oproepe gemaak, inligting tafels georganiseer en beman, straat en deur tot deur veldtogte van stapel gestuur, inwoners gekontak en probleme uitgesorteer.
Aan my toegewyde ondersteuners en helpers, Estelle Opperman, Angie Barnard, Teresa en Pieter Stapelberg asook die verskillende stemlokaal kapteine, Alma Barnard en Hanna Oosthuisen, wil ek ‘n spesiale woord van opregte dank uitspreek.”
Dan wil sy almal bedank wat gehelp het met registrasie naweke.
“Ook ‘n groot dank aan Maritza Viljoen wat my oë en ore by die aftree-oorde was.”
Sy voeg by dat sy nie vergeet van die toegewyde en behulpsame amptenare by die Mogale City plaaslike munisipaliteit wat altyd bereid was om haar en die inwoners van Wyk 38 behulpsaam te wees. Deur water, krag en ander infrastruktuur probleme op te los.
“‘n Spesiale woord van dank vir die liefde en ondersteuning wat ek voortdurend van die gemeenskap ontvang. Dit is voorwaar vir my ‘n voorreg om die raadslid van wyk 38 te kan wees.”
Sy bedank ook haar mede kollegas vir die voorreg om deel van hul party te kan wees en dat soveel hegte vriendskappe gevestig kon word.
“Ek wil graag elkeen ‘n Geseënde Kersfees en ‘n wonderlike 2020 toewens. Mag die oorblywende deel van 2019 en die nuwe jaar vir almal net vreugde en geluk inhou. Indien u gaan reis, wees asseblief versigtig en kom veilig terug.”

