MunicipalNews

Jare van verwaarlosing maak inwoners woedend

Die bejaardes van die Jack Cotton tehuis meen dat hulle in aaklige omstandighede leef omdat die munisipaliteit nie hul woonplekke in stand hou nie.

Lekkende dakke, geysers wat maande lank al nie werk nie, oorgroeide gras en swak sekuriteit is maar net ‘n paar van die dinge waaroor die inwoners van die Jack Cotton-tehuis nie gelukkig is nie.

Die News het onlangs dié tehuis besoek omdat daar verneem is dat die bejaarde inwoners glo al maande lank sonder warm water moet klaarkom.

Alma Barnard, een van die inwoners, het vertel waarmee hulle elke dag sukkel.

Een inwoner wag al jare dat sy stoof reggemaak moet word.

Met die News se besoek aan die eerste woonstel het die inwoner verduidelik dat hy reeds twee jaar wag vir ‘n nuwe slot vir sy veiligheidshek.

Ander inwoners het weer vertel dat hul geysers reeds sedert die winter nie meer werk nie, selfs nadat hulle dit reeds telkemale aangemeld het.

In baie van die klein woonstelle is die plafonne vol watervlekke, en daar waar die water deurgeloop het na die ligte is die lig net ‘n endjie verskuif en die plafon is net so gelos.

Die inwoners het haar eie wasbak gaan koop.

Een vrou het vertel dat sy baie lank op die waglys was om ‘n woonstel te kry, en toe hulle vir haar een aanbied, het sy dit dadelik geneem. Min het sy geweet dat die geyser nie werk nie en dat daar nie eers ‘n wasbak in die badkamer is nie.

“Ek het self ‘n wasbak gaan koop maar het niemand om hom vir my in te sit nie,” het sy verduidelik.

Die wasgoedlyne agter die gebou is byna onbereikbaar en die paadjie wat inwoners al deur die lang gras uitgetrap het, herinner mens aan ‘n staproete iewers in die platteland.

Die waterskade aan een van die inwoners se plafonne.
Foto’s: Natasha Pretorius.

Daar is boonop gerugte dat al die inwoners nie dieselfde bedrag aan huurgeld betaal nie, en dat daar nie ‘n standaardbedrag vir al die woonstelle gehef word nie.

Die een vrou het ‘n handvol elektrisiteitsrekeninge uitgehaal om te wys hoe daar elke keer ‘n ander naam vir die huurder vir dieselfde woonstel op die rekeninge verskyn, hoewel die huurder inderwaarheid onveranderd gebly het.

“Hierdie is die rekeninge van die vorige mense wat in die woonstel gebly het,” het sy verduidelik.

Hulle ontvang nog elke maand die agterstallige rekeninge en daar word glo van hulle verwag om daarvoor pa te staan.

‘n Ander inwoner het vertel dat daar net vier asblikke is tussen 18 woonstelle en dat dwelmslawe in die veld voor hul gebou leeglê.

Ou agterstallige rekeninge word vir huidige huurders gestuur.

Die inwoners het vertel dat die President-, Pioneers- en Van Riebeeck-woonstelle in net so ‘n haglike toestand is.

Volgens hulle vaI al die klagtes wat hulle al aan die Mogale City Plaaslike Munisipaliteit gerig het, bloot op dowe ore. Die News het Mogale City vir terugvoer en kommentaar oor die inwoners se bewerings gevra, maar geen terugvoering is nog ontvang nie.

Raadslid Trudie Naudé het vertel dat sy al ‘n geruime tyd probeer om hulp vir die inwoners te kry omdat die Mogale City-munisipaliteit verantwoordelik is vir die onderhoud van die woonstelle. Volgens haar behoort die grond aan die munisipaliteit en hulle werkers moet die gras sny.

Die inwoners versorg hul eie tuine maar die gras voor die woonstelle word nie deur die munisipaliteit gesny nie.

Na menige tevergeefse oproepe en eposse het Trudie maar iemand gekry om op haar koste die gras te sny. Sy het vertel dat daar ironies genoeg toe ‘n span van die munisipaliteit opgedaag het om die gras te sny net nadat haar werker dit gedoen het.

Die antwoord wat Trudie altyd kry as sy vra wanneer die geysers en die lekkende dakke herstel gaan word, is dat daar nie voorraad is nie en dat hulle vir voorraad wag. Sy hoor ook dat die begroting uitgeput is en dat daar nie geld vir herstelwerk is nie.

“Party van hierdie plekkies is in ‘n verskriklike toestand; die dakke lek soos ‘n sif,” het sy verduidelik.

Al kan sy nie kommentaar lewer op al die probleme by die woonstelle nie, het sy wel gesê dat dit ‘n gesukkel is.

“Die inwoners is afhanklik van ‘n staatspensioen en kry geweldig swaar. Ons probeer maar skenkings kry om te help waar en wanneer ons kan, maar dit is nie altyd moontlik nie.”

Een van die inwoners kook ook elke dag kos vir die verswakte inwoners en stuur dit dan na hulle plekkies.

“Die veiligheid van die inwoners kan ook nie gewaarborg word nie,” het Trudie afgesluit.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button