Die tyd het uiteindelik aangebreek vir Laerskool Krugersdorp-Noord om die eerste jaar van die tweede eeu van hul bestaan te vier.
Hierdie jaar word die skool 101 jaar oud maar as gevolg van die beperkings wat op skole geplaas word gedurende die Covid-19 pandemie sal die skool nie hul beplande vieringe kan hou nie.
Om hierdie rede het die personeel en Graad 7-leiergroep besluit om ‘n video te maak wanneer die Norie Reistas, wat dien as ‘n tipe tydkapsule vir toekomstige Graad 7’s, met hierdie jaar se herinneringe gevul word.
Die video is daarna aanmekaargesit en in elke klaskamer in die skool vertoon. Die Norie Reistas-tradisie is in 2019 begin ter viering van die skool se 100e verjaarsdag.

Elke jaar sal die Graad 7-groep items in hierdie reistas plaas wat dié betrokke jaar se Graad 1-groep ses jaar later, wanneer hulle in Graad 7 is, sal oopmaak om te kyk wat alles by die skool gebeur het toe hulle met hul lang skoolloopbaan begin het.
Hierdie slag het die Nories koerantuitknipsels van die News se 2020 Noordskool-artikels, ‘n koekie in die vorm van ‘n dalmalsiërhond wat tydens die ope-aand vir Graad R’s uitgedeel is, ‘n Graad 1-atletiekinligtingstuk en -sertifikaat, ‘n AfriForum-hulpbrongids vir Covid-19, aanwysings om ‘n masker by die huis te maak, en briewe van die hoofseun Dawid de Beer, en hoofdogter Lieze Wilson.
Hierdie tydskapsule sal dus op 7 Oktober 2026 oopgemaak word, en daarna sal daardie jaar se Graad 7’s hul herinneringspakkies in die tas plaas vir die volgende groep.
