My 20 jaar van kankerstryd
Joan du Plessis is al 'n gesoute kankervegter nadat sy 20 jaar gelede die eerste keer daarmee gediagnoseer is.
Op die oog af lyk Joan du Plessis sag en broos, maar dit is sy beslis nie.
Die 64-jarige is ‘n vegter wat al jare lank in ‘n stryd met kanker gewikkel is en telkemale bo uitgekom het.
Sy het vertel dat sy graag haar storie wil deel, nie net om vir ander in dieselfde posisie hoop te gee nie, maar om te wys dat ‘n mens nie moet toelaat dat die vieslike siekte jou onderkry nie. Joan is in 2000 met borskanker gediagnoseer.
Dit is maar moeilik vir enigiemand om te hoor hulle het kanker,” het sy vertel en bygevoeg dat sy glo dat kanker met ‘n doel oor jou pad kom. Dit het haar ‘n beter en sterker mens gemaak, wat nou ander in hul stryd kan ondersteun.
Na haar eerste diagnose het sy bestraling en chemo gekry, en was 15 jaar lank in remissie. In 2016 het sy egter die slegte nuus gekry dat die kanker nie net terug is nie maar na haar linkerlong versprei het.
Sy het weer behandeling gekry en het weer in remissie gegaan. In 2019 het sy weer die slegte nuus ontvang en dié keer was die chemokursus baie erg.
Haar hande en voete “het oopgebars” en was so erg geaffekteer dat sy in ‘n stadium in ‘n rolstoel beland het en haar familie na haar moes omsien. Dit het als een dag verander toe Joan besluit het dat kanker nie haar lewe gaan regeer nie.
“Ek het behandeling vir my voete gekry, en een dag net opgestaan en van die kamer tot in die sitkamer geloop en nie weer in ‘n rolstoel gaan sit nie.” Deur genade is Joan sedert Februarie vanjaar weer in remissie en moet binnekort weer toetse ondergaan, maar sy is baie positief.
Ek weet, vertrou en glo dat ek honderd persent gesond is. Ons het ‘n groot God – mens moet net glo. Die hemel is blou en die son skyn; die Here sal my dra,” het sy glimlaggend vertel.
Joan glo dat haar sterk persoonlikheid haar nog altyd positief hou, asook haar kankerondersteunersgroep, familie en die Krugersdorp Onkologie-eenheid.
“Elke dag wat jy opstaan is ‘n seën,” het Joan afgesluit.
