Pyprook saam met gentlemen
'n Aand waar manne en vroue kon gesels oor hul liefde vir pyp en sigaar rook, en iets terug gee aan die gemeenskap.
Weggesteek in Krugersdorp se middedorp staan die Krugersdorp Club. Die klub is reeds in 1897 gestig, en is die oudste gentlemen’s club van die ou Transvaal wat steeds in die oorspronklike gebou is.
Die klub is nie net ‘n plek waar lede bymekaarkom om te ontspan nie, maar oor die jare het hulle ook ‘n teruggeetradisie gevestig waar hulle die gemeenskap help, en steeds help.

Op Donderdag, 15 Oktober, het hul dié teruggeetradisie en ‘n gesellige aand gekombineer toe die klublede kragte met Johan en Wilna Prinsloo van Puff and Groom, asook Sampie Blom van die Imbali Foundation saamgesnoer het om ‘n Pyp-en-Sigaaraand aan te bied.
Besoekers het van so ver as die Oos-Rand gekom om die aand te geniet, en daar was altesaam 42 pyp- en sigaarliefhebbers.

Die geld wat die kaartjieverkope opgelewer het, gaan later in die jaar gebruik word om ‘n tehuis vir bejaardes in Krugersdorp met ‘n Kersete te bederf.
Behalwe dat elke besoeker dié aand sy pyp of sigaar met trots kon aansteek, het Johan ook ‘n praatjie gelewer oor die geskiedenis van pype en die verskillende pype wat daar is, en ‘n paar wenke gegee hoe om ‘n pyp op te pas. Elke besoeker is ook huis toe met twee sakkies tabak om tuis te gaan beproef.

Daar was skinkborde propvol heerlike kos vir besoekers om aan te smul, en aan die einde van die aand het die gelukkige Kevin Maher met Savinelli 320-pyp ter waarde van R1 800 na ‘n gelukstrekking weggestap.
Sampie het vertel dat die idee vir ‘n pyp-en-sigaaraand reeds drie jaar terug begin wortel skiet het en tydens die inperkingstyd het hulle besluit om dit so gou moontlik te doen.

Voordat Johan oor sy passie vir pype gesels het, het oudklubvoorsitter en rugbylegende, Toy Dannhauser ‘n spreekbeurt gekry. Hy het staaltjies vertel oor oudlede van die klub, en ook vertel van die dag toe hy die Amerikaanse pianis Liberace ontmoet het.
Johan het ook dié aand ‘n verskeidenheid pype en sigare uitgestal en ‘n gedeelte van die wins uit die verkope is vir die klub geskenk.
Net voor die gaste begin groet het, was daar ‘n verrassingstrekking, en Heidi du Toit was die wenner van die geskenkpak met tuisgemaakte souse.
