Local newsNews

Nories ontvang vanjaar weer die top pryse in toneelspel

Die FAK Allegretto-toneelfees word jaarliks aangebied om die beste tienertonele vanoor die land te kies.

Wanneer jy ‘n passie vir toneelspel ontwikkel het, is dit nie iets waarvan jy sommer net ontslae kan raak nie. Só ‘n passie vir die kultuur begin al vroeg, en Hoërskool Noordheuwel se top dramaleerlinge wys hoe hulle alreeds op nasionale vlak enige toneelspeler ‘n ding of twee kan leer.

Die FAK Allegretto-toneelfees word jaarliks aangebied om die beste tienertonele vanoor die land te kies. Weens die Covid-19 pandemie word die toneelfees vanjaar aanlyn aangebied en deelnemers is gevra om ‘n opname van hul toneelstuk aan die beoordelaars te stuur. Daar is sewe finaliste uit die 54 produksies gekies en die wenners is onlangs aangekondig.

Hoërskool Noordheuwel se Deus-Donne Barnard is as beste verhoogbestuurder vir die toneelstuk Vlinder Vlerke Vou aangewys. Robert Kruger het weggestap met die prys vir beste tegniese aspekte vir ‘n Traumatiese Retrospeksie. Die toekenning vir beste algehele teks vir 2020 word gedeel deur die stuk Vry met Karli Marais in die hoofrol, en Hoërskool Hugenote se Kerslig. Norie-onderwyser Mariki de Villiers-Knop is as beste regisseur vir Vry aangewys.

Karli Marais, Graad 10 Norie-leerder is as beste aktrise aangewys vir haar rol in die toneelstuk Vry. Foto ingestuur.

Karli is ook as vanjaar se beste aktrise aangewys vir haar hoofrol in Vry. Beoordelaar Phillru van Achterbergh het gesê, “Haar produksie was baie diep en haar karakter sterk. Die stuk het die beoordelaars aangeraak en sy het dit uitstekend opgevoer.”

“Ek is in Graad 10, en dit was my eerste toneelproduksie. Dit het my grootste verwagtinge oortref! Ek is so dankbaar vir die FAK Allegretto-toneelfees vir die inisiatief wat hulle geneem het om teater te laat voortleef in ‘n tyd soos Covid. Sonder my ongelooflike span sou niks daarvan moontlik gewees het nie. Dit was absoluut amazing! Die beste deel van Vry vir my was om vir 15 minute iemand anders te wees en hul storie te kon vertel, asook om nog ‘n passie van my, wat sing is, deel te kon maak van die produksie,” het Karli verduidelik.

Karli se ouer suster, Minke Marais het in 2019 weggestap met die toekenning vir beste aktrise vir haar rol in Waterbrief.

“Die grootste uitdaging was om van die verhoog na die kamera toe te beweeg. Die meeste van die akteurs was nie gewoond aan kamerawerk nie en moes hulself leer en touwys maak. Die ander uitdaging was om skielik vir ma, pa of boetie of sussie te vra om kameraman te speel,” het organiseerder Kobus van der Schyff-Smal vertel.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button