Krugersdorp stuur bokse vir Vrystaatse boere
Die burgerregte-organisasie het onlangs gemeenskappe gevra om 'n boks vir 'n boer te pak.
Boere in die Vrystaat het alles verloor toe verwoestende brande hul plase vernietig het. Suid-Afrikaners het daarna soos een mens opgestaan en hul harte oopgemaak om hierdie boere te help.
Die Krugersdorp-gemeenskap het nie op hulle laat wag nie en op Donderdag, 29 Oktober, het AfriForum hul rondtes met bakkies en waentjies gedoen om donasies van oral oor op te laai sodat dit na die boere toe geneem kan word.

Die burgerregte-organisasie het onlangs gemeenskappe gevra om ‘n boks vir ‘n boer te pak. Die boks moes onder andere toiletware, niebederfbare kos en toonbankmedisyne bevat.
AfriForum in samewerking met Solidariteit se Helpende Hand tak, Demokratiese Alliansie- (DA-) raadslede, besighede, organisasies en privaat inwoners in die gemeenskap het toe klaar gepakte bokse en los donasies by verskillende punte in die dorp afgelaai.

Leonie van der Spuy en haar familie en vriende het ‘n groot skenking gemaak deur 30 klaar gepakte bokse te borg. Elke boks het iets van alles wat nodig was in gehad, en daar is boonop ook ‘n bemoedigende boodskap en ‘n klein Bybel in elke boks ingesluit
Nick van Rensburg en sy vrou Liz het gehelp met die donasies en om die bokse te pak.
“Ek was self in die boerdery en my hart het uitgegaan na die mense. Toe ons hoor Leonie het met die projek begin het ons net daar ingeval,” het Nick vertel.
Die donasies is van Krugersdorp na Pretoria geneem van waar dit met trokke na die boere aangery sal word.
DA raadslid Lynette du Toit, het gesê dat hierdie net ‘n bewys is dat dit nie saak maak watter verskille mense het nie, wanneer dit nodig is kan ons as gemeenskap saam staan om te help waar dit nodig is.

Afriforum se Krugersdorp tak het om en by agt ton se kos en goedere ingesamel.
