Plaaslike inwoner speel rol in nuwe film
Die vierde boek in Dalene se Knysna-woud reeks, Toorbos, is ook nou in 'n film omskep
Vir generasies kon lesers nog nie Dalene Matthee se boeke neersit nie.
Of jy nou van Oupoot in Kringe in die Bos of van Fiela en haar optelkind gelees het, die Knysna-bos het lewe gekry deur Dalene se pen.
Die vierde boek in Dalene se Knysna-woud reeks, Toorbos, is ook nou in ‘n film omskep en op 13 November kan aanhangers van Dalene en haar Knysna-woud boeke hierdie film op die silwerdoek sien.
Plaaslike Cradle of Humankind-inwoner en akteur, Dirk Vermeulen, het self ‘n rol vertolk in die film wat Rene van Rooyen, die skrywer en regiseur, ses jaar lank aan gewerk het.
Die storie volg vir Karoliena Kapp, wat in die 1930’s die laaste van die woudbewoners was. Toorbos vertel die storie van die intieme verhouding en liefde wat Karoliena vir die Knysna-woud het. Karoliena wat groot word in die woud draai in ‘n pragtige jong vrou uit en trek die aandag van Johannes, ‘n besigheidsman van die dorp wat belowe om haar uit die woud en van armoede af weg te neem.

Maar die verskille tussen die bos en die dorp is te groot en Karoliena twyfel oor haar besluit om die Knysna-woud te verlaat.
Dirk vertolk die rol van Meneer Fransen wat vir Karoliena help om rond te beweeg in die woud want hy het ‘n kar.
Hy vertel dat hy na die rol aangetrek was omdat Meneer Fransen volgens hom ‘n baie simpatieke karakter is. Hy was die eienaar van ‘n winkel wat goedere aan die houtkappers verskaf het en het ‘n sagte plek vir Karoliena gehad.
Aangesien die film in die hartjie van die Knysna-woud geskiet is het Dirk vertel dat dele van die woud geen son kry nie wat dit soms koud en modderig gemaak het maak nie saak watter tyd van die dag dit was nie.
Hy het vertel dat mens deurgangs deur die modder moes sloer en ook passop vir die vele insekte maar dat dit ongelooflik was om die woud so te ervaar, amper prehistories, onaangeraak met ‘n oorvloed van voëllewe.
Dirk het spesifiek geidentifiseer met die armoede wat in die film uitgebeeld word. Hy het vertel dat net soos in Suid Afrika het dit sy kop uitgesteek en dit was moeilik om van dit te ontsnap.
“Om nie in beheer te wees van jou eie situasie en van bakpoort tot stuurpoort gegooi te word omdat jy nie dit kan veg nie,” het hy beygevoeg.
Al het Dirk nog nie self die film gesien nie vermoed hy dat dit wel goed sal doen op die silwersdoek oor die omgee wat in die film ingegaan het tydens die verfilming.
Dirk kan in ander films soos Nothing for Mahala, Vuil Wasgoed, Ses van die Bestes, Vir Ontbyt, Die Ooms en meer gesien word. Hy het sy loopbaan in 1978 met die film Grensbasis 13 begin.
