Local newsNews

Haar droom van geboorte af

Die Ster-Status TV-reeks se Charné Kemp mik vir die sterre en hoop om eendag op die grootskerm te verskyn.

Drome gaan nooit verlore nie, maak nie saak hoeveel jare en moeilike tye oor ‘n mens se pad kom nie.

Charné Kemp is iemand wat aan haar droom vasgeklou het totdat dit uiteindelik waar geword het.

Vandat ek my stem ontdek het,” het Charné begin, “en aangesien ek gillend in hierdie wêreld ingekom het, kan ek met gemak sê dit was my droom van geboorte af.”

Sy wou, vandat sy kon onthou, in die vermaaklikheidsbedryf wees. Maar, het sy verduidelik, die lewe het haar ‘n paar keer onkant betrap en haar droom laat ontspoor.

Charné het egter op ‘n dag besluit genoeg is genoeg en het haar hart op die spel geplaas toe sy ingeskryf het vir Aprentesses SA se Ster-Status kompetisie.

“Dit is ‘n platform wat geskep is vir dames wat ‘n passie het vir die vermaaklikheidsbedryf en ‘n hupstootjie nodig het om daardie drome waar te maak. Ster-Status bied vroue die geleentheid om self te sien hoe die bedryf werk deur saam met van die bestes in die industrie te werk,” het Charné verduidelik.

Hierdie gulde geleentheid het op die regte tyd in haar lewe gekom. Sy het vertel dat sy nou baie meer selfversekerd en emosioneel sterker is as toe sy jonger was.

Charné Kemp is gereed vir die kollig op Ster-Status. Foto: Marilize Coetzee.

Moenie my verkeerd verstaan nie, daar kom tye wat ek met my hande in my hare staan en dink ‘Charné, waarmee is jy besig?’ maar dis nie lank nie dan kry ek myself weer in orde, en dan is ek weer op die spoor.”

Charné se groot doelwit is om eendag die aanbieder van die TV-reeks Boer Soek ‘n Vrou se wees, en sy wil ook graag eendag haar eie rolprentdraaiboeke skryf. Daarby wil sy in soveel moontlik TV-reekse en films optree.

Charné en die ander deelnemers het reeds heelwat liefdadigheidswerk gedoen. “Ons was al by Villa Gloria hier in Krugersdorp, en Ster-Status het ‘n kosinsamelingprojek gehad in Parys. Ons was al Winterveld buite Pretoria toe om groente af te lewer en te plant, en ons het ook kos en komberse ingesamel vir Waltloo DBV in Pretoria, en die hokke gaan verf.”

Ster-Status word op Dinsdae om 6nm op VIATV uitgesaai en die finaal sal op 5 Desember gebeeldsend word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Clinton Botha

For more than 4 and a half years, Clinton Botha was a journalist at Roodepoort Record. His articles were regularly published in the Northside Chronicle now known as the Roodepoort Northsider. Clinton is also the editor of Randfontein Herald since July 2020. As a sports fanatic he wormed his way into various "beats - as the media would know it - and admits openly that his big love always have something to do with a scoreboard, crowds and usually a ball that hops.
Back to top button