Swaar weer en lastige kriminele in Mogale City het weer die reaksie-offisiere van EPR Sekuriteit besig gehou tydens die naweek van 7 en 8 November.
Die sekuriteitsmaatskappy se jongste misdaadverslag vir die tydperk is bekendgestel en Johan Krogh, hoofbestuurder van EPR Sekuriteit aan die Wes-Rand het gesê dit is duidelik dat besigheidsrowe en diefstal aan die toeneem is.
Daar was altesaam ses insidente.
Net op Saterdag, 7 November, het hulle op vier insidente gereageer, naamlik ‘n diefstal op ‘n plot in Tarlton, ‘n gewapende roof by ‘n winkel in Factoria, ‘n saakbeskadiging in Rant-en-Dal, en nog ‘n roof in Krugersdorp-Wes.
Op Sondag, 8 November, het hulle op diefstal- en natuurbeskadigingoproepe gereageer. In die eerste geval is ‘n sonpaneel van ‘n dak in Princess afgesteel en later het dakteëls in Chancliff afgewaai.
Die swaar weer oor die naweek het nie net skade aan geboue aangerig nie maar baie alarmstelsels is ook beskadig weens die weerlig. Inwoners word gemaan om seker te maak hul alarmstelsels is in ‘n werkende toestand, veral na ‘n swaar storm,” het Krogh gesê.
