Manie Beukes van Krugersdorp-Wes is absoluut raadop nadat daar hierdie jaar vier keer by hom ingebreek is.
Hy het verduidelik dat die inbrake op 25, 28, 29 en 30 Augustus vanjaar plaasgevind het. Hy glo hy weet wie daarvoor verantwoordelik is, maar het verduidelik dat die polisie dit nie kan bewys nie.
Tydens die eerste inbraak die aand van die 25ste het die boewe 12 slotte van die hekke afgeknip. Al wat oorgebly het was die boeie, want het Beukes gesê, hy glo hulle het die onderste gedeelte van die slotte gevat vir die koper.

Dieselfde aand is twee koperkrane ook afgesteel. Daarna is die houtdeur na sy buitekamer oopgebreek en twee boormasjiene, twee bobbejaanmoersleutels, twee skroewedraaiers, ‘n 25 meter-verlengkoord, ‘n hoekslyper, elektriese draad en ‘n sweismasjien is gesteel.
Beukes het vertel dat die polisie die volgende dag kom kyk het en hom aangeraai het om sy veiligheidsmaatreëls op te skerp.
“Hulle het dan twaalf slotte afgesny – hoeveel veiliger moet ek probeer wees?” het hy gevra.

Op die tweede aand, die 28ste, is daar by hul waskamer ingebreek en ‘n spuitkan, hidrouliese domkrag en twee 5 liter blikke verf is gevat. Die inbrekers het ook sy motorhuisvenster gebreek voor hulle oor die muur gespring het.
Mens sal dink dat daar nie veel oor was om te steel nie, maar soos Beukes vertel het, het die inbrekers op 29 Augustus vir ‘n derde keer toegeslaan. Dié keer het hulle die agterstoepvenster gebreek en ‘n kas bier en ‘n boks appels, wat vir die donkie bedoel was, gesteel. Hulle het later die leë appelboks in die veld gekry.
Dieselfde aand het hulle ook gereedskap – ‘n boormasjien en ‘n hoekslyper – gesteel wat Beukes by sy seun geleen het om die skade aan die huis reg te maak.

Die vierde aand was die booswigte in die erf maar het niks gesteel nie. Hy en sy vrou bly reeds 36 jaar in die huis en moes boonop nou duisende rande opdok om ‘n alarmstelsel te laat installeer.
Hy het ook die houtdeure met staaldeure vervang, en meer veiligheidsmaatreëls ingestel. Hy het vir die News-joernalis, Natasha Pretorius, gewys dat die vloere en kaste vol kerswas is.
Hy vermoed dat dieselfde man wat onlangs gevang is nadat hy telkemale by die die Wes-Randse Vereniging vir Fisies Gestremde Persone ingebreek het, ook die een is wat by hom ingebreek het.

Die vereniging se gebou is reg agter Beukes se eiendom, en die persoon wat by hulle ingebreek het, het ook ‘n kers gebruik.
“Hulle het net die klein goedjies gevat, dié wat hulle kon dra. Ek dink daar was meer as een,” het hy gesê.
Hoewel die polisie vir hom gesê het dat sy gesteelde eiendom nie by die man gevind is wat hy verdink nie, en dat hulle nie die misdade kan verbind nie, glo hy steeds dit was dieselfde mense wat vir al die inbrake verantwoordelik was.
